Willem Anker, Red Dog en Vrye Weekblad

  • 10

In verlede week se Vrye Weekblad het daar uit die pen van Deborah Steinmair ’n nogal felle aanslag op Willem Anker se veelbekroonde roman Buys verskyn. Die bron van haar misnoeë is ’n onvriendelike resensie van Red Dog (my Engelse vertaling van Anker se roman), in die Times Literary Supplement (TLS), geskryf deur ene George Berridge.

Berridge maak erg kapsie teen wat hy sien as ’n ongeoorloofde nabootsing van Cormac McCarthy se Wilde Weste-roman Blood Meridian, alhoewel hy toegee dat “Anker himself encourages the link, asking in the acknowledgments that if a reader happens to ‘stumble across the remains’ of McCarthy or Samuel Beckett, it should be treated as ‘the homage of a scoundrel’."

Berridge maak nietemin veral beswaar teen enkele passasies in Red Dog wat baie na is aan passasies in Blood Meridian. Hy haal een passasie aan: eers McCarthy se oorspronklike, dan Anker se weergawe soos deur my vertaal. Hulle is inderdaad na aan mekaar, dog geensins verbatim nie.

Die agtergrond: Ek het Buys as ‘t ware uit die vuis vertaal, dws sonder enige voorkennis van die bronne wat daarin opgeneem is. Maar toe ek en Willem die vertaling deurtrap, het hy aan my genoem dat daar enkele passasies is wat hy vertaal en aangepas het uit Blood Meridian. Ons het een van die passasies nageslaan en vergelyk met my vertaling terug na Engels. Vir my as vertaler was dit bloot ’n interessante oefening: Hier is ’n vertaling van ’n vertaling – hoe verskil dit van die oorpronklike? Soos ’n mens sou verwag, was daar beide ooreenkomste en verskille, en ek het die vertaling in my oorspronklike vorm gelos. Willem het wel vir my gevra of ek dink daar kan ’n probleem met kopiereg wees, en as ek reg onthou, het ek gesê ek kan my dit nie voorstel nie: Dit is nie ’n verbatim kopie nie, en daar is ’n erkenning van bronne agter in die boek.

Dus, toe die Britse uitgewer my nader, namens ’n resensent van die TLS, om navraag te doen oor die vertaalproses, het ek sonder om te skroom of twee maal te dink, die proses verduidelik. In my onskuld (naïwiteit?) het ek nog gedink die resensent sou dit ook sien as ’n interessante aspek van vertaling, sekerlik nie as ’n vorm van plagiaat nie. Nou ja, meneer Berridge het toe sy bommetjie laat ontplof: “an ungainly form of imitation” noem hy dit, “[which] certainly raises some discussion about the nature and justification of plagiarism”. Let wel: hy is versigtig om dit nie plagiaat te noem nie.

Ek het Berridge se nydigheid toegeskryf aan die feit dat hy ’n groot McCarthy-entoesias is, en waarskynlik geïrriteerd was deur wat vir hom gelyk het na ’n aanmatigende aanspraak op ooreenkoms met sy lieflingskrywer (bv die aanhaling van Rian Malan op die agterflap wat die boek “The Afrikaans equivalent of Cormac McCarthy” noem). En daar, het ek gedink, sal dit eindig: ’n ongunstige en aanvegbare resensie van een grommige resensent.

Maar nou wil Deborah Steinmair weet: “Lees Afrikaners dan nie die TLS nie?” Die antwoord is ja, wel, maar ons vergaap ons nie oopmond aan alles wat dit kwytraak nie. Steinmair, daarenteen, laat haar lei deur George Berridge (sy het nie McCarthy gelees nie en, sover ek kan aflei, ook nie Red Dog nie). Haar opskrif, wat sy ons vertel sy self gekies het, lui: “Willem Anker se Red Dog en die kulkuns van die letterdief”. So ’n opskrif verseker dat selfs iemand wat nie die res van haar betoog lees nie, sal omblaai onder die indruk dat Willem Anker ’n kuller en ’n dief is. En hoe goed sy ook al die res van haar aantygings verskans (niemand wil beskuldig word van laster nie, en sy seil baie na aan die wind), is dit ook die indruk wat haar kolom in sy geheel agterlaat. Ja, daar is baie “ons is tog almal so”-praatjies (“Om te lees is om te steel” – regtig?), en ja, “die kuns is ’n kloof vol eggo’s”. En “plagiaat is ’n harde histeriese woord” wat sy maar net sagkens laat val soos ’n poep in die konsistorie, want sien, “Die werklikheid is egter nooit so eenvoudig nie”, en daar is so ’n ding soos laster. (Selfs Berridge, soos ons gesien het, trap suutjies rondom die p-woord.) Maar wat, volgende Steinmair, is die “werklikheid” dan, as dit nie plagiaat is nie?

Daar volg weer ’n magdom metaforiese veralgemenings (“Die aardbol is ’n dorp”) wat wil-wil lyk asof daar dan eintlik niks mee verkeerd is om na ’n ander skrywer se werk in jou boek te verwys nie. Maar dan spring ons na die gevallestudies: Maeterlinck se skaamtelose diefstal van Eugène Marais se navorsing oor miere; Darryl Bristow-Bovey en Cynthia Vongai se “kleptomaniese oefeninge”, en Melanie Grobbelaar se heelhuidse vertaling van ’n Kanadese gedig. En in die konteks van hierdie uitgelese geselskap gooi sy dan “niemand minder nie as Willem Anker” in.

Wat impliseer Steinmair dus eintlik? Dat Red Dog ook so ’n “kleptomaniese oefening” is? Maar nee, sy “wil nie die jaloerse tante wees wat ongenooid by die doop opdaag” nie – “Maar as almal stilbly, gáán ek sekere vrae vra.” Ja, tante, vra maar.

Eintlik vra sy nie vrae nie; sy maak aantygings, gebaseer op haar eie interpretasie van George Berridge se resensie. Volgens haar wys hy “sterk ooreenkomste met [...] Blood Meridian uit, in storielyn en karakter sowel as sekere tonele wat feitlik woord vir woord ooreenstem”. (Wat is “feitlik”? Anker se 65 woorde bevat 10 wat ook in McCarthy voorkom.)

Berridge wys wel op sekere ooreenkomste (“sterk ooreenkomste”? – weer eens ’n kwessie van opinie) met McCarthy se karakter Judge Holden uit: “Like Judge Holden … Buys is a skilled orator and manipulator, and stands 7 feet tall.” Maar, beter dalk as Berridge, weet Steinmair tog dat Buys ontleen is aan die geskiedenis: orator, manipuleerder, 7 voet en al, nie aan McCarthy nie. (En ja, Anker “steel” Lichtenstein se beskrywing van Buys verbatim, met volle erkenning.) En – soos ons maar nog ’n keer kan sê – Buys/Anker is baie openhartig oor “diefstal” van ander mense se werk: “As he plunders mission stations and cattle kraals, so he plunders the texts of others far and wide to tell his own tale.”

En dit bring ons by die myns insiens onvergeeflikste aspek van Steinmair se betoog: Sy verswyg die feit, wat Berridge self noem, dat Anker in sy “Acknowledgements” eksplisiet erkenning gee aan sy gebruik van McCarthy en Beckett. Dit maak tog die hele verskil tussen verwysing/toespeling/intertekstualiteit en plagiaat. Want die brandpunt op die einde is die vraag of Willem Anker oneerlik te werk gegaan het in sy gebruik van sy bronne, anders is daar geen punt in Steinmair se argument nie. En sy wil dit nie trompop sê nie, maar ek glo dat enige relatief oningeligte persoon wat haar rubriek (of selfs net haar opskrif) lees, gelaat sal word met die indruk dat “niemand minder nie as Willem Anker” ’n plagiaris is. Dit is ’n gruwelike implikasie, hoe goed ook al verskans in mooi beelde en lofbetuigings vir Anker se skryfkuns.

En van lofuitinge gepraat: Gegewe Willem Anker se ongelooflike behendigheid met taal, soos Steinmair demonstreer, hoekom sou hy wou steel, leen, of wat ook al by ander skrywers, behalwe as ’n onderdeel van ’n komplekse geheel? Hy is meer as daartoe in staat om sy eie roman te skryf.

Lees ook:

kykNET-Rapport Boekpryse 2015: Commendatio vir Buys deur Willem Anker

Buys door Willem Anker: boekbespreking

LitNet Akademies-resensie-essay: Buys deur Willem Anker

  • 10

Kommentaar

  • Avatar
    Deborah Steinmair

    Beste Michiel, vir wie ek baie respek het, soos vir Willem Anker: Hoekom die boodskapper skiet? Miskien gee Anker in sy “Acknowledgements” erkenning aan McCarthy. Hy doen dit egter nie in sy “Erkennings” in Buys nie. Nie eksplisiet of by name nie. Ek verstaan ook nie waarom Melanie Grobler dan nie ook as klein onderdeel van ‘n komplekse geheel by Anne Michaels mog leen sonder vermelding nie. Hoogagtend, die suutjiespoeper.

  • Avatar
    Marga Stoffer

    Uitgewers byt gewoonlik op hulle tande en reageer nie op onbillike resensies of besprekings van skrywers se werk nie. In hierdie geval het ek gevoel dat Deborah Steinmair te ver gegaan het, en dat die onreg teenoor die skrywer te groot is om stil te bly. As uitgewersbestuurder van NB-Uitgewers, Willem Anker se uitgewer, het ek 'n brief aan Vrye Weekblad geskryf en ek neem aan hulle sal dit plaas. Maar Michiel het die woordvaardigheid om baie beter te s^e wat ek wou. Dankie, Michiel!

  • Avatar
    Sandra Pretorius

    Ek vind dit in die eerste plek bedenklik dat Vrye Weekblad nie eers die moeite gedoen het om Willem Anker te bel vir sy kommentaar om saam met Steinmair se aantygings gepubliseer te word nie. Dis mos standaardpraktyk in die joernalistiek?

  • Avatar
    Hennie vd Merwe

    Dankie, Michiel vir 'n goed geformuleerde antwoord op 'n interessante dog agterdogwekkende artikel deur Steinmair. Ek het nie Red Dog gelees nie, maar wel Buys (twee keer) en met self 'n diepgaande kennis van die historiese karakter Buys was ek verstom hoe Anker hierdie karakter gestalte (selfs groter as 7vt!) kon gee deur die historiese bronne korrek te interpreteer. Dit was vir seker nie vir hom nodig om andere se werke vir inspirasie na te lees nie.

  • Avatar
    Koos Holtzhausen

    As 'n vryskut en amateuragtige vertaler lê my simpatie by Michiel Heyns. Vertalers word dikwels misken, dikwels nie eers genoem nie.

    Ek was by 'n bekendstelling van die Afrikaanse Buys. Anker het dit toe duidelik gemaak dat hy sy inspirasie uit die Amerikaanse cowboy-tipe roman gekry het. Die gebruik van intertekstuele verwysings is tog 'n erkende letterkundige tegniek en om aansluiting te vind by skryfwerk uit 'n ander milieu en era is tog aan te bevele.

    Michiel Heyns se vertaling het dié noue verwantskap, wat oor grense van afstand en tyd strek, ontbloot.

    Of wat praat ek alles...

  • Avatar
    Marga Stoffer

    In my reaksie hierbo (op 29 Januarie) noem ek dat ek (as uitgewersbestuurder van NB-Uitgewers) aan Vrye Weekblad geskryf het. Ek het verwag dat hulle my brief sou plaas, maar kon dit nie opspoor in vandag se uitgawe nie. Ek plaas dit dus onveranderd hier:

    Brief aan die redakteur, Vrye Weekblad

    In “Willem Anker se ‘Red Dog’ en die kulkuns van die letterdief” (Vrye Weekblad, 24 Januarie 2020) gaan Deborah Steinmair slordig om met die term “plagiaat” en word die indruk sodoende gewek dat sy Anker hiervan beskuldig sonder om dit in soveel woorde uit te spel.

    ’n Mens wonder of Steinmair Red Dog (die Engelse vertaling van Anker se Buys) se erkennings onder oë gehad het. As skrywer, resensent en redakteur (by Protea Boekhuis, uitgewer van Anker se dramas) behoort sy te weet watter skade sulke onverantwoordelike insinuasies kan aanrig. Hierdie soort verdagmakery is onvergeeflik, veral aangesien nóg uitgewer nóg skrywer voor publikasie van Steinmair se artikel die geleentheid gegun is om te reageer.

    Buys is ’n postmodernistiese roman waarin intertekstualiteit aan die orde van die dag is en wat spesifiek van pastiche-tegnieke gebruik maak. (Lees gerus meer by https://en.wikipedia.org/wiki/Pastiche)

    In die erkennings agterin Buys noem Anker onder meer dat verskeie aanhalings, verwysings en verskrywings in die roman ingewerk is. In Red Dog gee hy spesifiek erkenning aan “the remains of other authors, notably Samuel Beckett and Cormac McCarthy”.

    In teenstelling met ander resensies van Buys en Red Dog tot op hede, was die ontvangs in die TLS wat tot Steinmair se artikel aanleiding gegee het negatief. Die resensent was nie beïndruk met die pastiche van McCarthy en ander skrywers se werk nie en het nie oor ander aspekte van Red Dog uitgewei nie. Dit is die resensent se goeie reg. Ter wille van balans is dit egter goed om in gedagte te hou dat Red Dog in The Times in die VK as die historiese roman van die maand aangebied is. Dié resensent, Antonia Senior, het die boek as ’n “sensational novel” beskryf en gesê: “Anker writes like a talented demon.”

    Dit sal jammer wees as een van Afrikaans se mees talentvolle skrywers se reputasie skade ly weens ondeurdagte insinuasies.

    Tersyde: Daar is ’n ongeskrewe reël in die uitgewersbedryf dat ons nie mededingers se boeke in die media bespreek of resenseer nie. Deur dit wel te doen, ondermyn Steinmair haar eie reputasie en geloofwaardigheid. Vrye Weekblad sal op sy beurt moet besluit hoe swaar botsende belange by sy medewerkers weeg.

  • Avatar
    Johannes Le Roux

    Om enige patrone te kan herken, verg verskeie onafhanklike waarnemings. Variasie rondom gebeurtenisse beteken dat ’n mens nie sommer ’n patroon kan raaksien met een of twee waarnemings nie. Maar ek kan myself nie help om hier my opinie te lig nie. Ek sien ’n patroon, maar my waarnemings is beperk. Deborah Steinmair het onlangs soortgelyke aantygings van plagiaat teenoor Ruan Kemp (Gedeeltelik Bewolk - sien hier https://www.vryeweekblad.com/mense-en-kultuur/2019-09-05-n-bekgeveg-tussen-griet-en-haar-eks-laat-vrae-oor-plundery-wemel/) gemaak as dié teen Willem Anker. Die modus operandi: Aantygings wat enige opkomende skrywer sy/haar loopbaan kan kos, sonder enige konkrete bewyse óf insae vanaf die beskuldigdes. Die aantygings teenoor beide skrywers is vir my van belang omdat beide boeke ’n spesiale plek op my boekrak het, en die feit dat ons as lesers geregtig is op die waarheid indien Steinmair se aantygings enigsins waterdig is. Ek het voorheen my opinie gelig oor Gedeeltelik Bewolk (sien https://www.litnet.co.za/gedeeltelik-bewolk-n-onderhoud-met-ruan-kemp/). Steinmair het onlangs self aangegee dat "In die replieke op my artikel in Vrye Weekblad [oor die Anker sage] is dit interessant om te sien hoe min ruimte vir bevraagtekening die Afrikaanse literêre landskap bied." Geld dieselfde nie vir aantygings van plagiaat nie? Waar is die ruimte vir die skrywers om hulle kant van die saak te stel, om hulself en hul werk te verdedig? Sies!

    Ek vind die aantygings teenoor hierdie twee jong skrywers ook uiters vreemd om ander redes. In meeste beroepe word jong belowende individue geprys en aangemoedig deur gesoutes soos Steinmair. Sonder konkrete bewyse vir haar aantygings dink ek Steinmair is besig om onbewustelik haarself skuldig te maak aan presies dit wat sy Kemp en Anker van beskuldig: diefstal - van die erkenning wat hierdie twee jong belowende skrywers toekom en, meer belangrik, diefstal van hul reputasies. Sonder meer konkrete bewyse bly Steinmair se aantygings fiktief, meer nog as die handel en wandel van George Moore en Coenraad de Buys.

  • Ek reken ’n skrywer/vertaler/uitgewer behoort nie te reageer op resensies nie. As hulle nie daarvan hou nie, laat dit stil-stil in die doofpot verdwyn eerder as om voortgesette publisiteit daaraan te gee. Hierdie geredekawel doen niemand goed nie en laat inderdaad ’n slegte smaak in die mond.

  • Avatar
    Henning Janse van Vuuren

    “Tersyde: Daar is ’n ongeskrewe reël in die uitgewersbedryf dat ons nie mededingers se boeke in die media bespreek of resenseer nie. Deur dit wel te doen, ondermyn Steinmair haar eie reputasie en geloofwaardigheid. Vrye Weekblad sal op sy beurt moet besluit hoe swaar botsende belange by sy medewerkers weeg.”

    Au contraire, mon cheri.

    En wat, Marga Stoffer, behels al die ongeskrewe reëls in “ons” / die (?) uitgewersbedryf? Please, spill the beans.

    “Die Mededingingskommissie is gemoeid met die ondersoek en goedkeuring van samesmeltings en oornames ASOOK (hier het ek self groot gegaan) sakepraktyke wat teen-mededingend mag wees.” ‒ Wikipedia

    Stilbly is ook ʼn antwoord.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top