Wil Anker dan Acker wees?

  • 1

Ter agtergrond van Deborah Steinmair se skrywe hier onder, lees:

Willem Anker, Red Dog en Vrye Weekblad

Red Dog en die illusie van skande

Buysdorp, Red Dog en ’n besinning oor die geskiedenis


Deborah Steinmair reageer:

In die replieke op my artikel in Vrye Weekblad is dit interessant om te sien hoe min ruimte vir bevraagtekening die Afrikaanse literêre landskap bied. My precious.

Respondente beskuldig my van verdagmaking en haas hulle dan om my verdag te maak. Die skinnertante met doopkoek in die mond (dit was my eie beeld), die provinsiale lomperd wat oopmond alles wat die Times Literary Supplement opdis, vir soetkoek opvreet. Ek wil sê: TLS is nie die Alberton Rekord nie.

Waarom dit laat klink asof ek ou koeie uit die sloot grawe terwyl dit reeds my vraag is: Hoekom is die TLS-resensie met sy aantygings so lank geïgnoreer? Waarom is dit nie ses maande gelede weerlê nie?

Ná al die verduidelikings bly ’n paar vrae haper: As Anker so mooi erkenning gee vir die beskrywing van Buys wat hy by Lichtenstein geleen het, waarom nie voetnotas by die passasies wat uit McCarthy gelig is nie?

Hoekom is Melanie Grobler vir dieselfde praktyk gekruisig?

Natuurlik is daar nie sprake van “verbatim” nie – ’n teks wat vertaal is en na die oorspronklike terugvertaal word, kan onmoontlik woord vir woord met die oorspronklike ooreenstem.

Michiel Heyns se reaksie eindig só:

En dit bring ons by die myns insiens onvergeeflikste aspek van Steinmair se betoog: Sy verswyg die feit, wat Berridge self noem, dat Anker in sy “Acknowledgements” eksplisiet erkenning gee aan sy gebruik van McCarthy en Beckett. Dit maak tog die hele verskil tussen verwysing/toespeling/intertekstualiteit en plagiaat. Want die brandpunt op die einde is die vraag of Willem Anker oneerlik te werk gegaan het in sy gebruik van sy bronne, anders is daar geen punt in Steinmair se argument nie.

Maar hier is die ding, Michiel: In die roman op my rak, die Afrikaanse Buys, word Cormac McCarthy en Samuel Beckett nié in die “Erkennings” gemeld nie. Die roman op my rak se “Erkennings” lyk só:

Daar word ook elders verwys na erkenning aan “die wrakstukke van McCarthy” – maar nee, daardie is ’n vertaling uit die “Acknowledgments” in Red Dog. Dit wil vir my lyk of hulle met die vertaling wel besef het dat ’n mens miskien McCarthy se naam moet noem.

In die oorspronklike roman is daar egter slegs die volgende sin: “Sou u in sy vertelling dan struikel oor die reste van ander outeurs, sien dit tog as die eerbetoon van ’n vagebond.” Waar is die hele verskil dan? Die sambreel van hierdie vrywaring is wyd en vaag. Die skrywer pleit om begrip vir sy karakter se kleptomanie. Wat my by die vraag bring: Karakters mag steel en plunder, maar tot hoe ’n mate mag skrywers dit doen?

Ek het nie Red Dog gelees nie, want die vertaling word nie in twyfel getrek nie.

Ek plaas graag ʼn gedeelte van ʼn erkenningsbladsy van Lydia Davis se Can’t and won’t, Hamish Hamilton, 2014, om te wys hoe ’n skrywer verantwoordelik met die gebruik van ander se tekste kan omgaan:

Ek stem nie met die TLS-resensent saam oor die kwaliteit van Anker se boek nie. Ek was hoogs beïndruk met Buys.

Erkenning: https://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/9/9b/Francisco_de_Goya%2C_Saturno_devorando_a_su_hijo_%281819-1823%29_crop.jpg

Ek leer graag oor pastiche soos beoefen deur JM Coetzee en ander, dankie. Spoeg en plak uit klassieke tekste is, soos ek in my opiniestuk geraai het, aanvaarbaar. Dit sou miskien beter wees as julle jul verdediging eerder hierop gebaseer het; as julle vir my gesê het: “Ontspan, histeriese tante, hierdie soort van ding is heeltemal aanvaarbaar deesdae, jy skop stof op oor ’n molshoop.” Julle kon miskien Kathy Acker as voorbeeld voorgehou het. Ek het in London Review of Books oor haar gelees:

Writing about Goya’s Black Paintings in Art After Modernism, a collection of essays published in 1984 by the New Museum in downtown New York, Kathy Acker wrote: “The only reaction against an unbearable society is equally unbearable nonsense.” She once said she didn’t expect anyone to read any of her books all the way through from beginning to end – “even in Empire of the Senseless, which is the most narrative book, you could read pretty much anywhere.” In other words, you could make your own montage, you could appropriate and re-order, just as Kathy Acker had appropriated and re-ordered the writing of others – Harold Robbins or Cervantes or Ian Fleming or Propertius. Recently, on the radio, Leslie Dick remarked that Kathy Acker’s writing was an extension of her reading, that her plagiarism was a way of reading, or rereading, appropriating and customising what she read, writing herself, so to speak, into the fabric of the original text. Acker used to read her own texts too, each one eight times, re-drafting it after each reading: once for meaning, once for beauty, once for sound, once to the mirror to see how it looked, once for rhythm, once for structure, and so on. Writing and reading became as confused and mixed up as sense and nonsense, male and female, self and other, the sexual and the political.

Erkenning: https://en.wikipedia.org/wiki/Black_Paintings#/media/File:Judith_y_Holofernes_(Goya).jpg

Ek kan net hoop dat wanneer die ontsteltenis bedaar het, almal sal besef ʼn mens mag maar vrae vra, soos ek nou besef dat ’n mens maar wyd en syd mag leen. En ek hoop iemand gaan vir Melanie Grobler om verskoning vra.

  • 1

Kommentaar

  • Dit is verstommend wat alles moontlik is wanneer jy in Afikaans skryf, dalk baie meer as wanneer jy in groot tale soos Engels, Frans, Duits of Spaans sou skryf. In Afrikaanse regsgeskrifte gebeur dit soms dat knip-en-plakkers versuim om die anderstalige bronne te noem wat hulle letterlik vertaal of geparafraseer het. Terugvertalings is dan die beste manier van kontrole vir portuurevalueerders en resensente wat snuf in die neus het. Maar dit kan baie moeilik raak wanneer in die voorwoord staan dat die navorsing gedoen is tydens die outeur se lang- en studieverlof in plekke soos Samoa, Finland of Limpopo. Let wel: hierdie opmerking gelds slegs vir oorskrywery in regstudies en nie vir pastische in kuns, kultuur, godsdiens en stoeppraatjies nie. In laasgenoemde gevalle is daar ingewikkelder rasionalisasies.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top