Uit die donkerkamer

  • 0

Noudat ek koud is en jy lê warm by my in hoop
agter die toegesluite kelders van my verouderde speelgoed;
diep is die emosies soos drome in die stroom
waar ons wonder en wy, en onder vyebome bly
sal ek by jou bly as die woes –
die woes in die woestyn roep.

Maar die deur was gesluit
en ek moes deur die gleufie loer
om te bespeur ’n sleutel, ’n skattekaart;
oop lê my hart, oop soos daai woes
in die woeste woestyn, maar iewers
het ek jou verloor, dalk ...
dalk, daar in die donker abissaal?

Ek het duifies gestuur, al wou ek nie
sonvangers gevang, al kon ek nie
om die hoeke van die sekelmaan, al té versmaai
onder die skuim van die branders wou ek nog swem
maar miskien, miskien hoor jy my fluit saam met die wind?

Maar hier staan ek soos ’n af-oor kind
doof en stom, hoe sóú ek jou lei?
Jy só argeloos en vry, kon jouself vermom
jy wat vlieg oor die winde wat my verbeelding ry
sing jy oor die branders by die gleufie verby
en al die warrelwind-sandkorrels waai jy vir my
op die rûe van duifies, onder droë son van sonvangers.

Miskien was dit daai aand toe ek
diep vêr weg in die sterre wou sink
het ek die sleutel iewers daar gebêre
in daai hemelse skittertuin waar die krap nog loop
en die ram nog die maagde pla?

Maar ek weet jy sal hom vind
jy het klaar die skerpioen geveg
en die bul getug en nou ry jy saam met die walvis
terug, terug na daai tyd toe ek en jy nog was ...
iewers in liefde, iewers verewig.

Lees ook

Die brandende hoed

Die motdood

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top