Touka

  • 0

Jy kry mense wat jou dag volmaak en dan kry jy mense waar jy wens die dag wil net klaarmaak. Soms kan ’n vyf-minute-gesprek jou heeldag besig hou, en dan is daar die ouens wat net nooit weggaan nie. Hulle hang rond en teen die einde van die dag is jy Goddank bly dat die Regime se belastings op drank en veral die goedkoop drank nog nie so hoog is soos die geheelonthouers en bekommerdes wil hê nie. Goedkoop goed wat soos waters vloei al rondom Allpay. Want ons weet tog almal waar al ons swaar belastings heengaan met Allpay, al praat ons al die mooi polities korrekte goed daaromheen.

Touka was maar net hier. Soos so baie van ons gesigloses het hy onsigbaar verskyn. Sonder huis of heenkome. Klein, dronk en slim bewoord met onsinnighede. As hy ses voet ses en bespierd was sou mense hom dalk ernstig opgeneem en dalk probeer verwilder het maar ons verduur mos maar die klein mense. Huisves hulle al is dit al om die beurt daagliks. Jy het hom van ver af sien aankom. Hy is een van die manne wat ’n kilometer loop in ’n 100 meter want hy loop heen en weer.

Synde almal hom kon rondstuur was hy blykbaar die koerier vir seskanne begin van die maand, driebottels middel vannie maand en hier teen einde vannie maand ’n liter of wat. Tevrede solank hy kon lê iewers. En so het ieder en elk hom geduld en gehuisves. Nooit ’n vol pakkie Bastille of JFK of ander R10 sigarette gekoop nie. Altyd een entjie en boksie metjies. Soggens as ek en jy nog lê agter boudjies was hy al op. Teen die tyd wat ek en jy tanne borsel het hy reeds sy mond met sy tweede glas goedkoop wyn geborsel. Teen die tyd wat jy in die verkeer sit is hy op pad, nie in dieselle stadsverkeer nie maar op pad oor een van die besigste weë in Oesterland, op pad oor die pad want by die kantien is daar altoos altyd ’n geluk iewers.

Ou man kom vanoggend met die nuus: Touka is getrap. Ek's nie verbaas nie want hier word weekliks mense getrap want ons agbare Owerhede stel meer belang in geldinsamel met hul bose spoedkameras en onwettigge boetes vir veiligheidsgordels as menselewens. In Oesterland klop die boeke en skoon oudits word uitgebasuin danksy gewillige boetebetalers. Net 100 meter vanwaar Touka getrap is deur ’n VW Touareg sit ’n dikgat beampte met ’n spoedkamera en ons hoes die boetes. En die klippe basuin dit nie uit nie want dit is nie wit lewens nie.

Nietemin. Touka is getrap. Bestuurder sit met die trauma dat hy ’n dood veroorsaak het. Bakkie moertoe. Touka moertoe. Dood. Die mense beduie hy het sleg gelyk want hy is onner die wiele in en almal praat oor hoe gevaarlik die N2 is. Touka is laatoggend met die lykswa verwyder na al die kamma-verklarings afgeneem is en die horde G-karre die plek ontruim het (waarom sak hulle deesdae soos vlieë op ’n kadawer rond?). By die lykshuis het hulle hom afgelaai en is vir die tweede keer dood verklaar. Deur ’n staatsdokter. Reggemaak vir Maandag want geen amptenaar gaan in 2020 op ’n Saterdag lyk oopsny nie. Daai goed het gebeur toe die land nog soortvan gewerk het. Nou wag jy tot die Beampte homself verwerdig.

Ek was nie daar nie, maar hierdie is amper letterlik wat gebeur het: Met die insit van die kadawer in die lyksak by die yskas het Touka voor hulle hom toegemaak het oë oopgemaak en vir die omstanders gevra: "Waar gaan julle nou met my heen?" Hy het letterlik uit die lyksak gegop gesit. Seer heupe en al. Fallas was netnou hier, anders as vroeër vanoggend toe die trane dik gerol het: Touka is weg. Was in die hospitaal en het uitgeglip. Verdwyn. Beslis nie weer dood nie.

Ek beduie hom dat ek sal geld waag dat hulle vir Touka iewers in ’n kantien sal opspoor.

Nou begin die ou mense se vrae opduik. My gryse Moeder se wens is om veras te word. Want, so beduie sy, sy willie in die kis wakkerword nie. "Veras my, dat ek uitbrand. Dat ek ten minste dood is."

Soos dinge nou gaan met lyke wat wegloop uit die lykshuis smaak dit my dissie ’n slegte opsie nie. Of, wel, soos mense nou sê: As Touka nie dronk was nie sou hulle dalk ’n pols gekry het by hom en dan was hy dalk baie erg beseer.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top