Resensie: Peter Pan on Ice

  • 0

'n Toneel uit Peter Pan on ice (foto: Christiaan Kotze)

The Imperial Ice Stars se ysskaatsers sluit onder meer 24 voormalige wêreld-, Europese-en nasionalekampioenskapwenners in. Die groep is die trotse houers van meer as 300 kompetisiemedaljes, en deur hul grasieuse skaatstegnieke, pragtige kostuums en meesleurende musiek kry JM Barrie se storie ’n magiese geur.

Die laaste keer toe die sterre van The Imperial Ice Stars ’n Kaapse draai kom maak het, was in 2017 met Cinderella on Ice.

Die Kunstekaap se hoofverhoog is ’n vierkantige ysskaatsbaan en die sterre se skaatse skiet elke nou en dan pragtige ysskerfies die lug in.

Die artistieke regisseur, Tony Mercer, word internasionaal gereken as die wêreld se voorste teater-op-ys-skepper.

Daar is bitter min dialoog, dus wil jy dalk eers weer gou jou geheue verfris oor die storie.

Peter Pan is ’n seuntjie wat nie wil grootword nie en bring sy nimmereindigende jeug op die mistieke eiland Neverland deur. Hy is die leier van die Lost Boys en kom in aanraking met seerowers, meerminne en Indiane, en so af en toe gaan haal hy gewone kinders uit hul huise vir ’n paar uur se avontuur wanneer hulle eintlik in droomland moes wees. Wendy in haar pragtige pienk nagkabaai, en haar twee broers is sy maats op dié reis en tussendeur is die astrante feetjie Tinker Bell, met haar reusagtige, sagte vlerke vol liggies, oral in die pad.

Daar is natuurlik die formidabele Captain James Hook, wie se hand Peter Pan afgesny het en waar ’n ysterhaak nou glinster. In die oorspronklike boek deur Barrie gooi Peter Pan die seerowerkaptein se hand in die see en ’n krokodil sluk dit in. Omdat hy nou dié mensvleis geproe het, jag hy hom voortdurend. Gelukkig het die krokodil ook ’n horlosie ingesluk en die getik-tok waarsku Hook van die krokodil se teenwoordigheid.

Die ster van die vertoning was juis dié dansende, opgestopte krokodil, met ’n blokkiesmaag en bobene wat Siya Kolisi na ’n dwergie laat lyk. Elke keer as die krokodil sy half lawwe dansie op die ys kom uithaal, klap die gehoor ywerig saam en daar is selfs ’n ritme in die skouers wat saambeweeg.

Dis natuurlik vermaak vir die hele gesin, maar ek wil my verstout om te sê ek dink die volwassenes het dit meer as die kinders geniet. Dis twee ure van pure dagdroom, kleur, klank en ysskaats wat jou asem wegslaan. Die skaatsers se toertjies, die karakters wat oor die verhoog “vlieg”, die keurige kostuums en bekende musiek is ware ontvlugting.

Elkeen van die sterre se vertoning was wêreldklas, en soos my 90-jarige pa aan die einde van die vertoning gesê het: “Dit was wraggies ongelooflik. Niemand het ’n voetjie verkeerd gesit; een maal gestruikel; of gelyk asof hulle dit nie geniet het nie.”

Dis ’n heerlike aand by die teater as jy vir ’n paar uur die werklikheid van 2020 wil uitsluit.

  • Barrie se oorspronklike toneelstuk van 1904, Peter Pan, or The boy who wouldn't grow up, is later omskep in ’n roman, Peter and Wendy, wat in 1911 gepubliseer is.
  • Die storie is die afgelope eeu omskep in films en teaterstukke, en van die bekende musiek is “I won’t grow up”, “Lost boy”, “I’m flying”, “On the rooftop”, “Never smile at a crocodile” en vele meer al volksbesit.

Peter Pan on Ice
Met: The Imperial Ice Stars, oa Linda Pledger Eedes, Trevor Joubert, Michael Harris en Veronica Suckling
Deur: JM Barrie
Artistieke regisseur: Tony Mercer
Kostuums: Tony Mercer en Veronique Pasternak
Kunstekaapteater
Speel nog tot 2 Februarie 2020
Geen onder 5’s
Kaartjies deur Computicket, Kunstekaap (021 421 7695), Theatre on the Bay (021 438 3300).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top