Resensie: Oorlog en vrede – Die morele verbeelding van die mens deur Willie Esterhuyse

  • 1

Oorlog en vrede – Die morele verbeelding van die mens
Willie Esterhuyse

Uitgewer: Naledi 
ISBN: 9781928426790.

Oorlog en vrede begin met twee kindertekeninge, waarskynlik deur die skrywer se kleinkinders: die een in kleur, die ander swart-en-wit. Die ouderdomsverskil van die kunstenaars wissel tussen ses en nege jaar. In die kleurweergawe is daar (nog) kinderlike onskuld terwyl in 'n kwessie van drie jaar waarskynlik deur sosialisering 'n skuif na 'n uitbeelding van geweld en oorlog plaasgevind het.

Willie Esterhuyse bewys sy veelsydigheid met die boeke op sy kerfstok. Natuurlik is daar 'n lyn te bespeur in sy belangstellings en kom hy hier naby aan sy filosofiese (en in 'n mindere mate teologiese) wortels. Sy vermoë om met ratse voetwerk 'n oorsig oor meer as vyf millennia se geskiedenis te gee, is bewonderenswaardig. Met duiselingwekkende spoed beweeg mens vanaf die een slagveld na die volgende in een beskawing na die ander. 'n Magdom kennis en feite word so weergegee.

Die duidelike beheer wat Esterhuyse oor sy onderwerp het en die insig wat alleen tyd en ervaring kan bring, blyk uit die verbande wat hy hier en daar lê tussen die gegewens wat hy as illustrasiemateriaal gebruik. Met tye moet jy jou kop behoorlik bymekaar hou. Sóveel gemaklikheid met jou veld en só 'n greep op die geskiedenis kan slegs later in die lewe bereik word wanneer teruggekyk word.

Esterhuyse skryf hier inderwaarheid 'n geskiedenis van “georganiseerde dodelike” geweld. Maar hy nuanseer dit verder: Dis 'n studie van die dialektiek (pendulumswaai) tussen oorlog en vrede en die menslike morele verbeelding wat dit onderlê. Uiteindelik gaan dit om die vraag of die oorsprong van die mens se ingesteldheid tot geweld deur die natuur bepaal word of kultureel is. Esterhuyse vind hierdie ingesteldheid juis in die manlike geslag aanwesig. Mens sou dus kon sê dit het onder meer met testosteroon te make, maar aangesien natuur en kultuur eerder twee kante van dieselfde munt is, moet dit ook in kombinasie met manlike sosialisering beskou word.

By tye word die geskiedenis 'n sleurgang van een bloedige stryd na die volgende. Die menslike geskiedenis is sowaar nie “for the fainthearted” nie. Ek lees Oorlog en vrede terwyl ek ook Yuval Noah Harari se Sapiens: A brief history of humankind nader trek. Harari gee nog 'n breër blik op die evolusieproses van ons as Homo sapiens-spesie, hoe ons waarskynlik ander spesies verwant aan ons uitgeroei het en ook millennia lank reeds omgewingsverwoesting saai. Esterhuyse se verhaal is hierin ingebed.

Terwyl ek aan Oorlog en vrede lees, laat president Trump die Iranse leier genl Soleimani vermoor en maak die bloedspoor van die geskiedenis dus 'n vars klad in die hedendaagse nuus. Hier het ek veral die hoofstuk getiteld “Die Islamitiese Staat: geglobaliseerde georganiseerde geweld” nuttig gevind. Terwyl mens probeer hond haaraf maak met die kompleksiteit van die Midde-Ooste ('n koloniale term), is die Islamitiese Staat hoofsaaklik toeskryfbaar aan godsiensgedrewe fundamentalisme, aldus Esterhuyse. Hiervoor sou daar dus Christelike parallelle bestaan.

Wat my betref, stel Esterhuyse dit effens sag wanneer hy sê: “[N]ie álle Moslems het gejuig toe die Wêreldhandelsentrum se twee torings ineengetuimel het nie” (263). Vanuit my onlangse ervaring van studie aan 'n Amerikaanse kweekskool wat fokus op geloofsverhoudings tussen Christene en Moslems, wil ek byvoeg: Natuurlik nie!

Ook die ononderhandelbaarheid binne Islam van die beywering vir 'n Moslemstaat is problematies, omdat breër interpretasies hiervan binne Islam bestaan. Dat “Islam, met die Koran as finale heilige teks, die Judaïsme en Christelike geloof oorbodig en selfs ongeloofwaardig as geloofsisteme in die hiërargie van goddelike openbaring gemaak het” (265), is eweneens aanvegbaar vanuit meer verdraagsame interpretasies wat byvoorbeeld onder Kaapse Moslems wydverspreid voorkom. Esterhuyse maak juis in 'n epiloog melding van die groei in hermeneutiek en dus die interpretasie van heilige tekste wat die afgelope tyd plaasgevind het.

In die geledere van die Islamitiese Staat is dit inderdaad 'n ander geval en stel dit eise aan verdraagsaamheid binne Moslemgeledere. Of bogenoemde eksklusiwiteit byvoorbeeld as 'n parallel met die klassiek-Christelike posisie van die “genoegsaamheid” van die Bybelse openbaring gesien kan word, is waarskynlik so. Dit sou selfs aan Christene die uitdaging kon bied om Islam as 'n “verdere” of “ander” openbaring te sien.

Wat leesbaarheid betref, sou Oorlog en vrede by 'n paar ekstra subhofies gebaat het. Dis net moeilik om soveel onafgebroke teks met die aandag te lees wat dit verdien. Die oorwig in die teks lê na die gewelds- en oorlogskant van die menslike verhaal. In eietydse geskiedskrywing word baie moeite gedoen om stilgemaakte en alternatiewe verhale bloot te lê en aan die orde te bring. Dit kom net hier en daar terloops ter sprake in Oorlog en vrede wanneer byvoorbeeld verwys word na die werk van Emily Hobhouse in die Suid-Afrikaanse Oorlog, die Rooi Kruis in die Eerste Wêreldoorlog, die protes teen oorlog in Picasso se Guernica, en dat Arafat, Rabin en Peres in 1994 die Nobelprys vir Vrede gewen het. Maar dis nie wat Esterhuyse hom hier ten doel gestel het nie.

'n Mens sou verder die verband kon aandui tussen ons moderne menseregtekultuur as toonbeeld van wat met die mens se beste morele verbeelding vermag is en die Westers-Christelike waardes wat jy aan die oorsprong daarvan kan vind, maar dis eweneens nie Esterhuyse se projek nie.

Die invloedryke Amerikaanse Fransiskaan Richard Rohr praat van die hoër bewussyn waarna gestrewe word in die aflegging van die ego en die agterlaat van die “reptielbrein” (primitiewe) met sy instinktiewe veg-of-vlug-reaksies. Terwyl menslike kennis enersyds uitbrei in terme van ons verkenning van 'n uitdyende heelal, is die ander front vir ontwikkeling inderdaad dié van die menslike bewussyn … sodat ons die gaping kan leer benut tussen gebeure en ons reaksie daarop … die gewelddadige reaksie wat dikwels outomaties kom.

Esterhuyse stoei met werklike problematiek wat uit sy praktiese ervaring as vredemaker spruit terwyl dit die menslike toestand en die beste kennis daaroor ernstig opneem. Hy vertel van die kreatiewe stimulering van die morele verbeelding wat nuwe moontlikhede in konfliksituasies kan ontsluit. Terwyl hy die menslike geskiedenis van geweld en vrede hier karteer, is dit ten einde te verken of en hoe ons oorlog kan ontgroei. Dis 'n onontbeerlike reis om saam met 'n gesoute denker te onderneem.

Kyk ook:

Video: Stellenbosch-bekendstelling van Oorlog en vrede deur Willie Esterhuyse

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    "Die Midde-Ooste ('n koloniale term)". Ek sou eerder beweer "die Nabye Ooste" is koloniale terminologie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top