Resensie: Bombshell

  • 0

Regie: Jay Roach 
Draaiboek: Charles Randolph 
Akteurs: Charlize Theron as Megyn Kelly, Nicole Kidman as Gretchen Carlson, Margot Robbie as Kayla Pospisil, John Lithgow as Roger Ailes

Bombshell het 24 Januarie in Suid-Afrikaanse teaters geopen en dit is ’n goeie begin vir die 2020-fliekjaar.

Bombshell is gebaseer op die ware verhaal van Megyn Kelly (Charlize Theron) en Gretchen Carlson (Nicole Kidman), wat die hoof van Fox News, Roger Ailes, aangekla het van seksuele teistering. Die Australiese aktrise Margot Robbie vertolk die rol van Kayla Pospisil, ’n fiktiewe karakter, gebaseer op verskeie van Ailes se slagoffers.

Die kyker maak kennis met hierdie drie vroue in die verskeie stadiums van hul loopbaan: Carlson as ’n “middeljarige” programaanbieder (’n doodsonde in televisie) wat deur Ailes uitgewerk word; Kelly, wat die huidige ster van Fox is; en Pospisil, ’n onskuldige, maar ambisieuse jong vrou wat graag ’n aanbieder op Fox wil wees. Deur haar (Pospisil) beleef die kyker wat ’n vrou deurmaak wanneer sy die eerste keer seksueel geteister word: die skaamte, pyn en skuldgevoelens.

Die drie aktrises is oortuigend en treffend in hul interpretasie, maar John Lithgow as die oorlede Roger Ailes het my verbaas. Ek het onmiddellik verwag om Ailes te verag, maar by tye was hy so charismaties en menslik dat sy sondes op die agtergrond geskuif is. Hy kon een oomblik vir Carlson verneder en die volgende oomblik vir Kelly oortuig dat hy haar ondersteun, en dis geloofwaardig.

Die fliek se tydlyn was by tye verwarrend en dit ruk jou as kyker uit die storie, maar die nuuskantooromgewing is eg. Die gebeure en die karakters se optrede was begryplik en oortuigend.  

Die fliek het my verbaas omdat dit soms lig en komies was, ten spyte van die moeilike tema. ’n Besonder treffende aspek van Bombshell was die insig wat die kyker in die vroue se denke tydens so ’n situasie kry.

Een van die randkarakters werk in een toneel verwilderd deur verskeie opsies nadat ’n kollega vra om haar hotelkamer te “sien”. “Wat doen ek? Maak dit jou skuld,” dink sy voor sy besluit om te weier. “Ek is jammer indien ek jou die indruk gegee het dat ek ... Ek het die grootste respek vir jou, ons is kollegas. Maar ek weier om jou my hotelkamer te wys,” hou sy vol, terwyl sy besef sy het pas haar loopbaan prysgegee.

Dié toneel was vir my die treffendste, omdat dit die duidelike magspel tydens seksuele teistering versinnebeeld.

Ek sal nie die einde bederf nie, maar dit was vir my skokkend om te besef dat nie een van die ware slagoffers betrokke was by die fliek nie. Ailes is in 2017 dood, maar ’n aantal van sy slagoffers kon nooit weer in televisie werk nie.

Van hierdie werklike slagoffers gesels met Megyn Kelly op haar YouTube-kanaal nadat hulle Bombshell gesien het:

Ek is ’n nie voorstander daarvan dat mense se trauma sonder hul toestemming gedeel word nie, maar dit is ’n treffende, uitstekende en gutsy fliek wat ek beslis aanbeveel.   

Sterre: 3,5

........

Lees dié uitstekende LitNet Akademies-artikel en die opvolgonderhoud oor seksuele teistering: 

........

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top