Resensie: A sin of omission deur Marguerite Poland

  • 3

A sin of omission
Marguerite Poland
Uitgewer: Penguin 
ISBN: 9781485904199

Ek begin halsoorkop op ’n Sondagmiddag die boek lees – my eerste kennismaking met Poland se skryfwerk, alhoewel haar naam aan my oorbekend is. Sy is immers ’n bekroonde skrywer, gerekende taalkundige en historikus.

Haar vorige romans, Train to Doringbult, op die kortlys vir die CNA-prys, Shades, op die kortlys vir die M-Net-toekenning; Iron love, recessional for grace (in Frans vertaal as Cantique pour Grace) en The keeper (in Afrikaans vertaal as Die bewaker), het nie net pryse ingepalm en is in ander tale vertaal nie; hulle het haar ’n gerekende romanskrywer gemaak.

Ek was aanvanklik skepties oor die inhoud, want as ’n politiekvoos Suid-Afrikaner was ek bang vir ’n prekerige, polities-gelaaide boek. En die hemel weet, jy kan vandag nêrens heen wegdraai van die gemors wat kolonialisme regoor die wêreld agtergelaat het nie.

Die storie in ’n neutedop (hoewel dit toe later blyk baie onregverdig te wees om dié komplekse, hartroerende, meesleurende storie te probeer vereenvoudig): Stephen (Malusi) Mzamane, ’n jong Anglikaanse priester, moet onder baie haglike omstandighede deur die Oos-Kaap na sy ma reis om haar die nuus van sy broer se dood mee te deel. Dis laat 1800’s; die onrus tasbaar oor die vlaktes van ’n verdeelde land.

Stephen is as kind ingeneem deur die Native College in Grahamstad, en word in 1869 vir opleiding na die Missionary College in Kantelberg (Canterbury) in Brittanje gestuur. Hoewel hy daar eintlik maar uitgestal word as vertoonstuk oor sy kleur en “heidense” kultuur waarvan die kerk hom glo verlos het, is hy ’n spogstudent op wie ’n blink sendingtoekoms in Suid-Afrika wink.

Hy maak vriende met die jolige Albert Newnham en daar is beloftes dat hulle saam uitgeplaas sal word by ’n sendingstasie of selfs kan terugkeer na die Native College in Grahamstad, Stephen se alma mater.

Albert sal vir Stephen bystaan met Latyns en Grieks sodat hy as volwaardige priester ingelyf kan word en Stephen se kennis van die plaaslike kultuur en sy Xhosa sal van hulle ’n gedugte span maak om siele vir die Anglikaanse kerk in “donker” Afrika te werf.

Dinge werk egter anders uit vir dié twee uit en Stephen beland by ’n afgeleefde sendingstasie naby Fort Beaufort. Hier word hy nie net deur sy eie mense uitgeskuif omdat hy sy kultuur verlaat het nie; hy is ook ’n pion in ’n koloniale omgewing én word op die ou einde deur die kerkdieners verraai.

Sy hele onbaatsugtige tyd by die sendingstasie is hy verskeur tussen sy lojaliteite vir die amaNgqika vir wie sy charismatiese (maar selfsugtige) broer geveg het en die koloniale meesters wat hom ’n geleentheid in die lewe gebied het – en dit net so maklik weer weggevat het.

Liefde was hom nooit beskore nie.

Min het ek geweet dat die tragiese storie van die fiktiewe Stephen en sy beste vriend, Albert Newnham, my só sou raak. Twee lewens waarin die leser onvoorwaardelik ingesleep word en wie se hartseer en onderskeie ontrafeling en uitmekaarval onlosmaaklik deel van jou eie psige word.

Toe ek die laaste bladsy klaar gelees het, swem die woorde in my trane. Lanklaas het fiksie my só geraak. Terwyl ek na my man draai en sê ongelukkig is sulke boeke nooit heeltemal fiksie nie, die gedagte moes van iewers gekom het, blaai ek na die skrywersnota.

En sowaar, Stephen het werklik bestaan! Hoewel hy ’n ander van gehad het, en hoewel heelwat van die toestop van gate in die verslae en dokumente wat Poland oor die jare geraadpleeg het, uit haar eie verbeelding is, het hy geleef.

Die skrywer se grootwordjare in die Oos-Kaap; haar kennis van inheemse tale en kultuur; selfs die keuse van die voorbladfoto van haar oupa by Stephen se sendingstasie, het aan hierdie boek soveel meer geloofwaardigheid gegee.

Dis by Thabo Makgoba, aartsbiskop van Kaapstad, se opmerking op die stofomslag dat ek die meeste aanklank vind en wat direk vertaal min of meer só lees: “Marguerite Poland het die vermoë om woorde te gebruik om die realiteit te skilder.”

En beter kan ek dit nie stel nie. Marguerite Poland voer jou mee na die klein modderkerkie op die heuweltjie, wat met die eerste swaar reëns wegspoel – die haglikheid van ’n klein gemeenskap sonder geld en hoop. Jou vingers voel die uitgekerfde letters in die kapelletjie in Kantelberg; jou lyf instinktief moeg ná die hoofkarakter se vele vermoeiende reise sonder kos.

Sinne of grepe soos: “Nuus lê nie in die pad nie”; “Wie kan die betekenis van weemoed ignoreer? Of die woede wat ongeregtigheid ontlok, die vlam wat nie geblus kan bly word deur logika of redelikheid nie – wat haat gestalte gee?” bly jou by.

Die paragraaf waar die pyn in jou bors ’n definitiewe steek gee, is waar Stephen – heeltemal ontnugter en verlate – met homself worstel.

Dis bykans die laaste stuiptrekkings van sy innerlike struweling wat hierdie ontnugterde kerkdienaar het: “Hy spreek homself as Malusi Mzamane aan, sonder liefde. Sonder kompromie. Hy kon nie bid nie. Hy wens hy kon van homself wegstap, die dop agterlaat en weer ’n kind word (...) onbevlek deur skuld, skaamte, spyt en net gaan lê, en oorgee aan die vermoeienis.”

En byna asof hy nooit bestaan het nie, moet enige spore van hom doodgevee word. “Hy word deur die seevoëls weggedra. Niks van hom word agtergelaat nie.”

En dan, die brief aan Stephen se vriend wat die senior-priester nie kans sien om te pos nie, want hy het “die behoefte gehad om ’n metgesel vir die verdriet te wees, wat die verslae jong priester nie sal kan voel hy kan deel nie.”

Of die jolige Albert wat “sy vreugde weggepak het”. Wat ’n speler sonder vuur geword het.

Ek sal hierdie boek oor ’n paar jaar weer wil lees; net om weer die pragtige beskrywings, die ongelooflike onreg en droewigheid van Stephen weer só intens te ervaar.

Hierdie boek is meer as ’n boek oor ’n slagoffer van kolonialisme; meer as ’n historiese herinnering aan die sondes van die verlede. Dis ’n boek oor versugting; oor verpletterde drome en onvervuldheid.

Dit kan enige plek in die wêreld en in enige tydvak afspeel. Die mag wat die kerk/staat/politiek/samelewing het en hoe dié wat nie aan die standaarde voldoen nie, platgeslaan word, is tydloos.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Nadia de Kock

    Dankie, Maryke. Ek gaan die boek terstond aanskaf (Amazon se 1-click vir e-boeke is my vriend.)

    A Sin of Ommision klink roerend. Ek het The Keeper gelees en was net so meegevoer. Poland is 'n uitstekende skrywer en storieverteller.

  • Avatar
    Maryke Roberts

    Dankie Nadia. Ek is altyd skrikkerig om te sê "dis een van die beste boeke wat ek al gelees het", want mens is mos maar voortdurend op reis en jou gemoed reageer verskillend op verskillende tye, maar hierdie boek verdien dié frase. Geniet jou lees-reis!

  • Avatar
    martin oosthuizen

    'n Resensie met soveel insig en begrip, Maryke.
    U skryfwerk is iets om te lees,te genie en waardeer.
    Ek stem heeltemal saam met u opinie oor die boek en die skrywer.
    Dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top