Red Dog en die illusie van skande

  • 3

Dankie aan Michiel Heyns vir ’n nugtere taksering van die resensie in die Times Literary Supplement (TLS) waarna Deborah Steinmair verwys in haar skrywe in Vrye Weekblad, en van haar eie modus van aandagvestiging op genoemde resensie.

Die feit dat die Afrikaanse literêre sisteem broos en marginaal is, beteken nie dat robuuste polemiek vermy moet word nie. Die roekeloosheid wat debatte hier ter plaatse soms kenmerk, is weliswaar genoeg om my gewoonlik van deelname te weerhou. Maar soms kan ’n mens ’n diskoersbydrae nie laat verbygaan nie.

Om te suggereer dat ’n skrywer plagiaat pleeg, is soos om te skimp dat ’n kleuterskoolonderwyser ’n pedofiel is. Dis die soort aantyging wat dadelik stigmatiseer, wat onmiddellik skade aanrig, hoe onwaar dit ook mag wees. As mens dit goeddink om so ’n beskuldiging te loods, is dit eties en intellektueel – en bloot menslik gesproke noodsaaklik – om op ’n omsigtige en deurdagte manier te werk te gaan. Om jouself van die feite te vergewis. Toe Eugène Marais, as marginale figuur doer in die kolonies, die Europeër Maeterlinck van oorskrywery beskuldig het (al sou sy magtelose beskuldiging hom niks in die sak bring nie), het hy hom op vaste feitelike grond bevind. Toe Loftus Marais die problematiek rondom bepaalde gedigte van Melanie Grobler uitgewys het, het hy dit op skaars weerlegbare manier gedemonstreer.

Deborah Steinmar doen iets heel anders. Sy vestig die aandag op haar twyfelagtige interpretasie van ’n reeds problematiese 2019 resensie deur ’n jong TLS-resensent – ’n individuele mening wat sy aanbied as “gerugte […] uit die VK”. Sy maak duidelik dat sy McCarthy nie self gelees het nie; sy kan dus geen eie oordeel vel nie. Die probleem is egter die feit dat sy, soos Heyns aandui, vir Willem Anker nietemin half terloops liasseer in ’n katalogus van plagiaatplegers, en ook op ander maniere die oorhoofse indruk skep dat Anker ’n “letterdief” is. ’n Meer produktiewe, en flukser, benadering sou gewees het vir Steinmair om beide Red Dog en Blood Meridian te lees en haar ten minste prima facie te probeer vergewis van die houdbaarheid al dan nie van Berridge (wat nooit beweer Anker pleeg plagiaat nie) se ses maande oue argumente, en om dan self ’n ingeligte posisie in te neem. As haar oorwoë mening dan sou wees dat Anker se eksperiment met pastiche – ’n benadering wat hy eksplisiet sein – literêr gesproke misluk, dan sou dít ’n nuttige polemiese posisie kon wees en die beginpunt kon vorm van sinvolle debat. (’n Mens sou, as een voorbeeld, ook kon kyk na die tegniek by JM Coetzee van inbedding in sy prosa van frases van ander – gewoonlik klassieke – skrywers.)

Om egter die postuur in te neem van ’n tante wat, skinderend met ’n mondvol doopkoek, ’n atmosfeer van skande en verdagtheid skep, en ander dan uitnooi om te reageer op een of ander “slegte tyding” waarvoor sy nie self verantwoordelikheid neem nie, is nie gesonde polemiek nie. Dis kleindorpse fluistering wat ’n literêre ruimte verklein eerder as verruim. En hoewel uitgerekte gedingvoering in ’n hof skaars ooit ’n bevredigende forum bied vir ’n romanskrywer, is die fluisteringe waarskynlik ook vatbaar vir ’n lastereis.

Is die slotsom dus nie soseer dat plaaslike skrywers te geredelik leen in hul tekste nie, maar dat plaaslike kommentators soms so blindelings beïndruk kan word deur ’n enkele opinie, bloot omdat dit in die Noordelike Halfrond uitgespreek word, dat dit hul eie gesonde oordeel lamlê?

 

Lees ook:

LitNet Akademies-resensie-essay: Buys deur Willem Anker

Willem Anker, Red Dog en Vrye Weekblad

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Henning Janse van Vuuren

    Indien Willem Anker soveel as een paragraaf klakkeloos as sy eie plagieer het, is dit sy verdiende loon as hy ʼn patella onder die gestewelde voet verloor. Ek het “Buys” geniet. Krieket ook, tot en met Hansie se hansworsery.

    Traduttore, traditore.

    Eksorbitante dreigemente van laster sal nie deug nie: Tsk-Tsk. Is dit dan nie so dat ʼn man van strooi niks het om te verloor, benewens sy humeur, nie?

    Uit Karel Schoeman se Slot van die Dag (p. 50) haal ek graag soos volg aan: “Betreklik gou het ek my egter bevry van die begeerte om ʼn Skrywer te wees of deel van die kloustrofobiese Afrikaanse Letterkunde uit te maak; en het ek onder andere opgehou om na besprekings te kyk of my aan hul uitsprake te steur.
    ...
    Wie verbeel hierdie mense hulle is hulle? Moet ek retories vra, sonder hoop op antwoord. Maar kennelik floreer die ‘professor doktor’-sindroom nog onder Afrikaanse geleerdes.”

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top