Nou in die verlede: Cry, the Beloved Country en Alan Paton se vrese

  • 0

Lees in hierdie artikel oor ’n gebeurtenis wat vandeesweek in die geskiedenis plaasgevind het.

Saterdag 1 Februarie 2020

Cry the beloved country, for the unborn child that’s the inheritor of our fear.
Alan Paton

Die aanhaling hier bo kom uit Alan Paton se grondverskuiwende roman Cry, the Beloved Country, wat deur baie beskou word as dié deurslaggewende anti-apartheid kernteks – hoewel apartheid as amptelike regeringsbeleid eers later in wetgewing sy inslag gevind het. Op 1 Februarie het ons die dag gedenk waarop hierdie werk in 1948 gepubliseer is.

Paton, ’n wit Suid-Afrikaner, vertel hierin die verhaal van ’n swart Suid-Afrikaanse priester, Stephen Kumalo, wat op ’n soektog vertrek na sy verlore seun, Absalom. Stephen Kumalo is ’n stil, beskeie man wat op sy geloof vertrou om hom deur moeilike omstandighede te dra. Wanneer hy en sy medepriester, Msimangu, uitvind dat Absalom gearresteer is vir die moord op ’n wit aktivis wat vir rassegelykheid gestry het, en dat hy nou teregstelling in die gesig staar, begin Kumalo hom aktief vir versoening en geregtigheid beywer.

Hierdie roman is ’n sosiale protes teen die destyds bestaande openbare en sosiale strukture wat uiteindelik tot apartheid sou lei. Ironies genoeg sou die Nasionale Party slegs vier maande na die publikasie van hierdie werk aan bewind kom en hulle apartheidsbeleid gedurende die daaropvolgende vier dekades implementeer.

Paton probeer deur sy werk ’n gebalanseerde beeld gee van die teenstrydighede binne hierdie strukture. Wit Suid-Afrikaners beeld hy uit as slagoffers van ’n “inheemse misdaad”, terwyl swart Suid-Afrikaners ly onder sosiale ongelykheid en die vernietiging van tradisionele swart gemeenskappe eie aan Afrika. Dit stel baie van die probleme in ’n ongelyke Suid-Afrika aan die kaak, soos die reservering van swakker-gehalte-grond vir swart Suid-Afrikaners, die disintegrasie van tradisionele gebruike binne plattelandse gemeenskappe en die migrasie van jong, swart Suid-Afrikaners na die stede. Maar die deurlopende, heersende tema regdeur Cry, the Beloved Country is die nadelige uitwerking wat vrees op die Suid-Afrikaanse samelewing het.

Volgens Paton word hierdie vrees en paranoia aangevuur deur ’n gebrek aan kommunikasie en die heersende omstandighede, wat die saad van wantroue tussen die verskillende rasse saai. Dit weer lei daartoe dat ’n onderdrukkende sisteem ingestel word wat in stand gehou word deur impulsiewe vrees, ontneem van alle rasionele denke en logika. So ’n sisteem stuur onafwendbaar op sosiale ongelykheid, onreg, geweld en onderdrukking af. Die onderdruktes word geleer om uit vrees vir vergelding hulle onderdrukkers te respekteer. Die onderdrukkers weer word geleer om die bestaande sisteem ten alle koste in stand te hou ten einde te voorkom dat hulle vrese, naamlik dat die onderdruktes in opstand kan kom, ’n werklikheid word. In die proses word ’n sisteem gebaseer op ’n siklus van vrees geskep.

By monde van Msimangu waarsku Paton teen die gevolge van hierdie siklus met hierdie bykans profetiese woorde: “My enigste hoop vir ons land sien ek in die wit man en swart man … wat beide slegs die beste belange van die land in gedagte het, wat byeenkom om daarvoor te werk … Die een groot vrees in my hart is dat wanneer hulle (wit mense) eendag wel begin liefhê, hulle sal vind dat ons alreeds begin het om te haat.”

Hiermee waarsku Msimangu dat mag swart Suid-Afrikaners net so maklik tot verdorwenheid kan verlei as wat dit met wit Suid-Afrikaners gedoen het. En dit is presies hierdie verdorwenheid wat Suid-Afrika in ’n dilemma van sy eie gevange hou. Paton wys hiermee op die hartseer ironie van ’n land waarin geregtigheid en rassegelykheid ontken word deur swak tydsberekening eerder as slegte bedoelings.

Dit is die tersaaklike gedagte waaraan vandag oorweging gegee behoort te word, veral binne die klimaat van rasseverdeling wat Suid-Afrikaners steeds, selfs na 26 jaar van demokrasie, in die gesig staar. Die emosiebelaaide debat rondom grondhervorming en -herverdeling word weer eens op die voorgrond gedryf deur die ANC-regering se pogings om artikel 25 (die sogenaamde eiendomsklousule) van die Suid-Afrikaanse Grondwet te wysig deur middel van ’n (tans nog) konsepwysigingswet. Die voorgestelde konsepwet, sou dit goedgekeur word deur die parlement, sal dit moontlik maak dat die Grondwet gewysig word ten einde die Staat in staat te stel om wettiglik vaste eiendom soos grond (en, teoreties, ook roerende eiendom) te onteien sonder vergoeding aan die bestaande eienaars. Boonop het die ANC onlangs aangekondig dat hulle die konsepwet verder wil wysig om die rol van die regbank in sake van grondhervorming te beperk en meer mag in dié verband aan die uitvoerende gesag toe te sê. Hierdie aankondiging word deur politieke kommentators gesien as ’n oorwinning vir die faksie binne die ANC wat sogenaamde radikale ekonomiese transformasie (RET) voorstaan.

Die herlewing van die onteiening-sonder-vergoeding-idee is al vir ’n lang ruk deel van die ANC se faksiegedrewe politiekery met die oog op die byeenkoms van sy Algemene Nasionale Raad gedurende Junie vanjaar, wanneer die regerende party sy vordering met die uitvoering van sy resolusies gedurende die eerste helfte van sy vyfjaar-regeringstermyn sal beoordeel. Verlede jaar het onteiening sonder vergoeding ’n sleutelrol gespeel tydens die nasionale verkiesing in Mei, en dit is steeds ’n belangrike verkiesingspropagandapunt vir die 2021-plaaslikeregeringsverkiesing. Derhalwe is dit duidelik dat die idee van “radikale transformasie” hoofsaaklik gedryf word deur die ANC se interne faksiepolitiekery, eerder as deur ’n eerlike behoefte aan die effektiewe herverdeling van grond. Gedagtig aan die emosionele waarde daaraan verbonde, word die grondkwessie deur politici gebruik om ’n wig tussen “dié wat het” en “dié wat nie het nie” in te dryf, met die aangeblaaste persepsie dat eersgenoemde hoofsaaklik uit wit Suid-Afrikaners, en laasgenoemde hoofsaaklik uit swart, bruin en Indiërlede van die Suid-Afrikaanse bevolking bestaan.

Eeue van massa-ontneming, korrupsie, rassespanning en politieke geweld oor rassegrense heen het die sisteem van onderdrukking ontwikkel tot verfynde wreedheid. Wit Suid-Afrikaners het inderdaad lank daaruit voordeel getrek, maar nou kom dit voor asof die ANC (of ten minste ’n sterk faksie daarbinne) daarop uit is om hierdie magsdinamika deur sogenaamde radikale ekonomiese transformasie om te keer. Hulle retoriek is dat hulle die grond aan die meerderheid van Suid-Afrikaners wil “terugbesorg” in ’n poging om die onregte van die verlede, waardeur Alan Paton ook moes leef, te herstel.

Skeptici het hul bedenkinge oor die regerende party se motiewe, en wys daarop dat hulle bloot aan hulle hoofsaaklik werklose, verarmde ondersteuningsbasis probeer vasklou met hierdie retoriek. Om verstaanbare redes het hierdie mense toenemend ontnugter geraak met die sogenaamde bevrydingsparty en al meer na die energieke en radikale populistiese retoriek van die EFF begin luister. In ’n poging om die fokus weg te skuif van hul eie korrupsie en onbeholpenheid, het die regerende party besluit om ook radikale-transformasie-beleide na te volg ten einde die mag te behou – waardeur hulle die sisteem tot hul voordeel sal bly beheer. Om dit te vermag is dit vir hulle noodsaaklik om die blaam weg van hul eie onvermoë na die tradisionele “onderdrukkers” te verskuif: die wit grondeienaars. Hulle is die ideale sondebokke, want die geskiedenis het hulle en hulle voorgeslagte alreeds uitgewys as dié wat voordeel getrek het uit die sisteem. Want die sisteem was tog uiteindelik om hulle gebou, om hulle te akkommodeer. Nou is die rolle omgeruil. Die onderdruktes het die onderdrukkers geword, hoewel ook nie volkome nie, want as dit volkome was, sou die huidige gronddebat onnodig gewees het. Inteendeel, daar het nou ’n nuwe klas van swart elite ontstaan wat die hoër range van die sisteem bereik het, terwyl die meerderheid swart Suid-Afrikaners steeds krepeer in skeiende armoede en ellende. Die enigste verskil vir hierdie ekonomies en maatskaplik onderdrukte mense is dat dié in beheer nou die blaam vir hierdie mense se lyding verskuif na ’n minderheidsgroep wat met die voormalige onderdrukkers geassosieer word. Die vrese van vele is nou besig om die belange van die maghebbers te voed. Paton (of ten minste Msimangu) se “een groot vrees” het nou ’n werklikheid geword.

Maar wit Suid-Afrikaners mag nie en kan nie nou hulle hande in die lug gooi en uitroep “Huil, die geliefde land” nie; veral nie wanneer wit mense net soveel verantwoordelik is vir hulle “slagofferskap” as swart Suid-Afrikaners vir hulle s’n is nie. Die sisteem van onderdrukking is aanvanklik ingestel om wit mense te bevoordeel, en dit is verstaanbaar, hoewel nie verskoonbaar nie, dat wit mense daartoe verbind sal wees om dit in stand te hou ten einde voort te gaan om daaruit voordeel te trek. Hierdie feit moet deur wit Suid-Afrikaners onder die oë gesien en gekonfronteer word, anders sal enige kritiek wat hulle teen die optrede van die ANC mag hê, tereg as huigelary beskou kan word.

Die hoog aangeskrewe Nobel-pryswenner-fisikus en -chemikus Marie Curie word soos volg aangehaal: “Niks in die lewe moet gevrees word nie, dit moet net verstaan word. Dit is nou die tyd dat daar meer verstaan moet word sodat ons minder kan vrees.” Ten einde die siklus van vrees te breek, moet Suid-Afrikaners mekaar se vrese verstaan. Om dit te vermag, moet Suid-Afrikaners na mekaar luister, die agtergrondgeraas veroorsaak deur politieke retoriek en populisme ignoreer, veral vir ’n oomblik eie vooroordele ignoreer, en net luister. Dit beteken natuurlik nie dat almal nou onvoorwaardelik met mekaar moet saamstem nie. Maar deur luister word ’n veilige omgewing geskep waarbinne mense mekaar leer verstaan. Deur begrip word die skanse van vrees afgebreek. Wanneer almal uitvind dat hul voorafgaande vrese vir mekaar ongegrond was, dan begin die waarskynlikheid sterk word dat hulle kan saamwerk in die rigting van ’n gedeelde en gesamentlike toekoms, daardie toekoms wat oudpresident Nelson Mandela voorsien het toe hy gesê het: “Ons verbind ons tot ’n gelofte dat ons ’n samelewing sal bou waarin alle Suid-Afrikaners daartoe in staat sal wees om met hulle koppe omhoog te loop, sonder vrees in hulle harte.”

Tydens hierdie huidige deurslaggewende stadium in die Suid-Afrikaanse geskiedenis moet Suid-Afrikaners nie vergeet waarom hulle oor hulle geliefde land huil nie. Maar hulle mag ook nooit vergeet waarom dit nou, in 2020,  tyd geword het om die erfenis van vrees finaal af te skud nie. Want die ongebore kind mag nie as erfgenaam daarmee opgesaal word nie.

  • Jako Bezuidenhout is ’n Afrikaanse Suid-Afrikaner wat daagliks gedwee, soms verleë, soms wroegend, maar hoofsaaklik met trots, sy geërfde historiese bagasie met hom saamdra. Hy het pas sy doktorale proefskrif in geskiedenis by Rhodes-universiteit ingedien. Hy was tot onlangs aan die Geskiedenisdepartement daar verbonde en is tans ’n vryskutnavorser.

Bronne

Mandela, NR. 1994. Inauguration Speech as President of SA, 10 May 1994. SANews (10 Mei 2018) by https://www.sanews.gov.za/south-africa/read-nelson-mandelas-inauguration-speech-president-sa.

Marie Curie: Facts About the Pioneering Chemist, 8 Februarie 2019, History.com by https://www.history.com/.amp/news/marie-curie-facts.

Merten, M. 2020. ANC’s executive proposal on expropriation without compensation obscures already vast ministerial powers. Daily Maverick (28 Januarie) by https://www.dailymaverick.co.za/article/2020-01-28-ancs-executive-proposal-on-expropriation-without-compensation-obscures-already-vast-ministerial-powers/amp.

Paton, A. Cry, The Beloved Country (New York, 1948).

SparkNotes: Cry, the Beloved Country – Alan Paton. SparkNotes at: https://www.sparknotes.com/lit/cry.

Lees ook:

Liefde, politieke broederskap en die verbintenisse van verwerking: Alan Paton se Cry, the beloved country

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top