LitNet Akademies Weerdink: Trump, Palestina en Israel

  • 0

Trump het verlede Dinsdag sy sogenaamde vredesplan vir Palestina en Israel uiteengesit. Aan die een kant het hy belowe dat ’n Palestynse hoofstad in Oos-Jerusalem gevestig gaan word, maar aan die ander kant gaan Amerika nedersettings deur Israel op die Wesoewer erken. Menán van Heerden gesels met Sakkie Spangenberg oor hierdie nuwe verwikkeling.

Jerusalem

Sakkie, in jou en Christi van der Westhuizen se artikel “Kritiese besinnings oor die Israelse eiendomsaansprake op Palestina” (2018) sê julle: 

Donald Trump het in November 2017 te kenne gegee dat die VSA van voorneme is om sy ambassade van Tel Aviv na Jerusalem te verskuif om sodoende uitvoering aan ’n vroeëre VSA-besluit te gee wat Jerusalem as hoofstad van Israel erken. Die meerderheid VN-lidlande het die besluit van Trump veroordeel, omdat dit die Palestynse aansprake op Oos-Jerusalem ignoreer. 

Wat is jou opinie oor Trump se 2020 sogenaamde vredesplan (wat belowe om ’n Palestynse hoofstad in Oos-Jerusalem te vestig)? 

Enigeen wat bekend is met die ontstaansgeskiedenis van die staat Israel in 1948 en bewus is van hoe die Sionistiese Jode te werk gegaan het om die Arabiessprekende Palestyne te verdryf ten einde ’n “gesuiwerde” grondgebied in Palestina daar te stel, kan nie anders as om verstom te staan by die lees van die Trump-adminstrasie se vredesplan nie. Hierdie vredesplan is geen vredesplan nie, maar ’n plan wat daarop ingestel is om die opeenvolgende Israeli-regerings se onregmatige inpalming en besetting van Palestynse grondgebied te legitimeer.

Die vredesplan is tot mislukking gedoem omdat daar nie met die Palestyne onderhandel is nie. Ons het hier weer te doen met die arrogansie van die Trump-administrasie wat meen dat hulle aan niks en niemand ter wêreld verantwoording verskuldig is nie. Dit strook duidelik met Trump se vroeëre besluit om die VSA-ambassade van Tel Aviv na Jerusalem te verskuif. Net soos in laasgenoemde geval het die bekendmaking van die vredesplan natuurlik politieke oogmerke.

........

“Hierdie vredesplan is geen vredesplan nie.”

........

Sowel Benjamin Netanyahu as Donald Trump staan in hul onderskeie lande aangekla. Netanyahu word beskuldig van korrupsie, terwyl Trump beskuldig word van politieke magsmisbruik. Die burgers van die VSA gaan einde 2020 stembus toe om ’n nuwe president te kies. Heelwat politieke kommentators wys daarop dat Trump die uitreik van sy vredesplan gebruik om die aandag af te lei van die staat van beskuldiging wat tans in die VSA-senaat debatteer word. Voorts hoop hy om die konserwatiewe Christene te kry om vir hom in die komende verkiesing te stem. Netanyahu hoop op sy beurt weer daarop dat die konserwatiewe Jode hom genadig sal wees en dat die beskuldigings van korrupsie nie sy politieke loopbaan sal beëindig nie.

Die Palestyne kan met reg praat van “’n kwarteeu van onreg”, want sedert 1947 het Westerse magte oor hulle grondgebied en hulle lewens besluite geneem waarby hulle nooit inspraak gehad het nie. Daar is altyd agterna gesprekke gevoer en pogings aangewend om die Palestyne te oortuig dat dit vir hulle beswil is om die besluite wat oor hulle geneem is, te aanvaar. Dis ook weer met Trump se vredesplan die geval. Die Trump-administrasie hou hul vredesplan voor as om beswil van die Palestyne, terwyl die Palestyne weet dat dit nie vir hulle beswil is nie, want hulle sal groot dele van hulle grondgebied wegteken, sou hulle die plan aanvaar. Só ’n handeling sal die deur open vir verdere kolonialisering en onteiening deur die Israeli-regerings. Nóg Israel, nóg die VSA is te vertrou wanneer dit by onderhandelinge en vredesplanne kom.

Wat is die kruks van die konflik tussen Israel en Palestina?

Ek verkies om liewer nie van “kruks” te praat nie, want dit kan die indruk wek dat daar net één rede vir die konflik is. Veral konserwatiewe Christene meen dat die Palestyne se “hardkoppigheid” die rede vir die konflik is. As die Palestyne net meer toegeeflik wil wees, sal alle probleme soos mis voor die son verdwyn. As hulle maar net vrede wil maak met die verloop van die geskiedenis soos dit sedert 1948 ontvou het, sal die konflik bedaar en dalk opgelos word. Weinig konserwatiewe Christene is bewus van hoe die Sionistiese Jode tydens die sogenaamde Bevrydingsoorlog van 1947–1948 te werk gegaan het om die Palestyne te verdryf. Dit is waarom die Palestyne na hierdie gebeure as die Nakbah (die verwoesting) verwys. Na dié oorlog was die Sionistiese Jode in besit van 78% van die oorspronklike Britse mandaatgebied. (Vergelyk dit met die syfers in die volgende paragraaf.) Dit is onder andere te danke aan die Joodse historikus Ilan Pappe dat ons hiervan weet. Vergelyk sy boek A history of modern Palestine (2006).

Toe die VN se verdelingsplan in 1947 geformuleer is, het die Jode slegs 7% van die gebied besit en het hulle maar ’n derde van die totale bevolking uitgemaak. (Daar was 1 269 000 Arabiessprekende Palestyne en 678 000 Jode in die gebied.) Ten spyte hiervan het die VN voorgestel dat die gebied só verdeel word dat die Jode 55% van die gebied kry en die Palestyne die orige 45%.

........

“Toe die Sioniste met hul besettingsoorlog in 1947 begin het, het die Westerse lande nie beswaar aangeteken nie, en toe die staat Israel op 14 Mei 1948 uitgeroep is, het byna alle Westerse leiers oor hulle voete geval om die staat te erken – selfs Suid-Afrika by monde van Jan Smuts. (Een van die strate in Jerusalem is dan ook na hom vernoem: Yehohanan Smutsstraat!)”

........

Daar is wel twee sake wat vir my uitstaan wanneer ’n mens oor die geskiedenis lees van die totstandkoming van die staat Israel en die pyn en lyding wat die Palestyne sedertdien moes verduur: (1) die onregverdige besettings en oorname van die Palestynse grondgebied, en (2) die onbillike behandeling van die Palestyne omdat hulle as ’n trappie laer as Westerlinge beskou word.

Wat die eerste punt betref, kan ’n mens daarop wys dat daar nog nooit in eerlikheid en met regverdigheid en billikheid met die Palestyne onderhandel is nie. Nóg die VN-verdelingsplan van 1947, nóg die wyse waarop Brittanje gehandel het voor sy onttrekking aan Palestina getuig van eerlikheid, regverdigheid en billikheid. Die VN-plan vir die Britse mandaatgebied het die gebied onregverdig tussen die Jode en die Palestynse Arabiere verdeel.

Toe die Sioniste met hul besettingsoorlog in 1947 begin het, het die Westerse lande nie beswaar aangeteken nie, en toe die staat Israel op 14 Mei 1948 uitgeroep is, het byna alle Westerse leiers oor hulle voete geval om die staat te erken – selfs Suid-Afrika by monde van Jan Smuts. (Een van die strate in Jerusalem is dan ook na hom vernoem: Yehohanan Smutsstraat!) Weinig Westerse leiers of regerings het beswaar aangeteken oor hoe die Sionistiese Jode te werk gegaan het om die Arabiessprekende Palestyne uit hulle dorpies en nedersettings te verdryf ten einde ’n “gesuiwerde” Joodse staat daar te stel. Ongeveer 80% van die Palestynse dorpies en nedersettings wat geleë was in die gebied wat die Sionistiese Jode as hul regmatige deel van Palestina beskou het, is óf totaal vernietig, óf deur Joodse setlaars beset nadat die inwoners eenvoudig verjaag is. Dis hierdie vlugtelinge, asook diegene wat ná die 1967-oorlog gevlug het, aan wie beloftes van finansiële vergoeding in die Trump-vredesplan gemaak word. Maar die nuwe vredesplan formuleer geen reëls oor wie vergoed sal word en wat die bedrae sal wees nie.

Godsdiens speel natuurlik ook ’n groot rol in die konflik. Konserwatiewe Christene in die VSA en elders ondersteun die staat Israel omdat hulle die beloftes aan Abraham waarvan ons in die Ou Testament lees, letterlik opneem en die Israeli-Jode se aansprake op die gebied vanuit die Bybel regverdig. Maar hulle vergeet dat die belofte van ’n land en ’n groot nageslag wat aan Abraham gemaak is, betrekking het op sowel Ismael as Isak. Moslems beskou hulle as die nageslag van Ismael en het daarom net so ’n regverdige aanspraak op die land as diegene wat Isak as hul voorvader reken. Indien ’n mens vanuit die Bybel wil redeneer, moet álle tekste in aanmerking geneem word. Vergelyk gerus die opmerkings wat ek hieroor in die artikel “Kritiese besinnings oor die Israelse eiendomsaansprake op Palestina” gemaak het.

Is die besetting deur Israel kolonialisties of is daar eerder meer ooreenkomste met apartheid?

Dis nie ’n kwessie van óf die een (kolonisering) óf die ander (apartheid) nie, maar ‘n geval van én ... én. Die besetting deur Israel het te doen met kolonisering én apartheid – presies soos dit in die geval van Suid-Afrika was. Dit was koloniale magte wat Suid-Afrika kom beset het en wie se handelinge uiteindelik op die apartheidsbeleid uitgeloop het. Afrikaanssprekendes het nie apartheid uitgevind en dit in 1948 geïmplementeer nie. Hulle het Westerlinge se idees van rasmeerderwaardigheid van onder andere die Britte geërf en dit verder uitgebou. Lánk voor die NP-regering in 1948 aan bewind gekom het, het “lokasies” buite Suid-Afrikaanse dorpe en stede bestaan en is die inheemse mense van Suid-Afrika as van ’n laer stand en ras beskou as Westerlinge. Sir Frederick Moore, die eertydse minister van “Native Affairs” en latere eerste minister van Natal het, volgens Edgar Brookes in sy boek Native education in South Africa (1930), gesê: “[T]he black man is incapable of civilization.”

Apartheid was net so springlewendig in die VSA in die vorige eeue. Dis te verstane, want van die VSA-state was vroeër Britse kolonies. Die rasmeerderwaardigheid in die VSA het ’n Britse wortel net soos wat die rasmeerderwaardigheid van die Suid-Afrikaanse wit bevolking ’n Britse wortel het. Hierdie rasmeerderwaardigheid het die Sionistiese Jode ook oorgeneem en dit hulle eie gemaak. Dit is deels wat ten grondslag lê aan hulle beskouings van en beleid teenoor die Palestyne.

........

“Neem ’n mens in ag dat Westerlinge vroeër neergesien het op mense van Joodse afkoms, is die ommeswaai na die totstandkoming van die staat Israel nogal verbasend.”

........

Die Sionistiese Jode het heelwat van die Britse Ryk geleer en dit in Palestina toegepas. Hulle het geweet dat hulle so gou moontlik met die steun van Westerse lande ’n “kolonie” in Palestina moes vestig en hulleself as die “meerderes” van die bestaande inwoners moet voorhou – en dít terwyl Jode vroeër in Westerse lande as laerklasburgers beskou is. Christi van der Westhuizen bespreek dié kwessie besonder goed in ons artikel “Kritiese besinnings oor die Israelse eiendomsaansprake op Palestina”.

Waar pas witheid in hierdie prentjie?

Studies wat “witheid” as vertrekpunt neem, wys daarop dat Westerlinge gewoonlik onbewus is van die wyse waarop hulle afkoms, hulle opvoeding en hulle posisie binne ’n samelewing hulle bevoordeel het en steeds bevoordeel in vergelyking met mense met ’n ander velkleur en kulturele afkoms. Hierdie studies het ’n wyer blik as studies wat net op rassisme fokus. Rassevooroordeel is maar één aspek wat met witheid verband hou, maar om die konflik tussen die Israeli-Jode en die Palestyne te verstaan, is dit belangrik om vir ’n oomblik net op rassisme te konsentreer.

Neem ’n mens in ag dat Westerlinge vroeër neergesien het op mense van Joodse afkoms, is die ommeswaai na die totstandkoming van die staat Israel nogal verbasend. Een van die redes vir die verdrukking en vervolging van Jode in Europa hang met die vroeëre rassevooroordeel saam. Hierdie vooroordeel word dikwels as antisemitisme beskryf. Die Jode kon net nooit daarin slaag om hulle as gelykwaardige burgers in Europese lande te vestig nie. Daar was tye dat hulle redelik goed geïntegreer was, maar dit het nie lank geduur voordat die vooroordeel kop uitgesteek het nie. Hierdie vooroordeel het natuurlik ook ’n godsdienstige wortel gehad. Jode is dikwels as “godmoordenaars” bestempel.

Met die totstandkoming van die staat Israel het daar ’n kentering by Westerlinge ingetree. Westerse Christene het begin glo dat die totstandkoming van die staat Israel met eindtydgebeure verband hou. Die vyeboom is aan die bot (Matt 24:32–33)! Westerse state se spoedige erkenning van die staat hang deels hiermee saam en ook deels met hulle gekwelde gewetes dat hulle die Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog in die steek gelaat het. Noudat Israel ’n “Westerse staat” geword het, het die Israeli-Jode Westerse identiteit aanvaar en daarmee saam natuurlik rasmeerderwaardigheid wat op daardie stadium so eiendomlik aan Westerlinge was. Die wyse waarop die Palestyne deur die Israeli-regerings behandel word, asook die Israeli-weermag se optrede teenoor die Palestyne, hou verband met hierdie rasmeerderwaardigheid.

Vóór 1947 het Jode en Arabiessprekende Palestyne goed met mekaar oor die weg gekom. Jode en Palestyne is beide van Semitiese oorsprong, maar die besettingsoorlog van 1947–1948 het ’n wig tussen die twee groepe ingedryf. Die feit dat Westerse lande Israel spoedig as staat erken het, terwyl die Arabiese lande die bestaan van die staat Israel ontken het, het die verhouding tussen die groepe verder laat versleg.

........

“Ek vermoed dat daar nie ’n radikale verandering in my leeftyd sal kom nie.”

........

Ek is nie bewus van studies oor witheid wat fokus op die verhouding tussen die Israeli-Jode en die Palestyne nie, maar moet erken dis nie my primêre studieveld nie. Ek fokus meer op hoe godsdienstige oortuigings rasmeerderwaardigheid voed en het onlangs ’n artikel hieroor gepubliseer: “Religious roots of racism in the the Western world: A brief historical overview”, HTS 75(1), https://doi.org/10.4102/hts.v75i1.5187.

Op 27 Januarie 2020 was dit 75 jaar nadat die reuse-konsentrasiekamp Auschwitz-Birkenau deur troepe van die Rooi Leër bevry is. Kan dit as ironies beskou word dat Jode in Israel al vir dekades ’n hele bevolking onderdruk? Gaan ons oor 75 jaar terugkyk en wonder waarom Palestina nie gehelp was nie, waarom niemand enigiets doen nie? 

Dit is inderdaad ’n stuk ironie dat die Jode, wat soveel in die Tweede Wêreldoorlog gely het, tans die Palestyne aan soveel lyding onderwerp. Maar daar is Jode wat die onreg raaksien en hulle stemme begin dik maak. Een hiervan is Ilan Pappe na wie ek vroeër verwys het. As die interne kritiek en druk toeneem, kan daar ’n verandering kom, maar ek is bevrees dat die konserwatiewe Christene hulle meer skaar by die verdrukkers as by die onderdruktes — en dít terwyl daar heelwat Palestynse Christene is. Dit is vir my ’n ewe groot ironie dat Christene hulle nie by mede-Christene skaar en teen onreg agiteer nie, maar by diegene skaar wat vir die onreg verantwoordelik is.

Ek vermoed dat daar nie ’n radikale verandering in my leeftyd sal kom nie, maar kom ons bly hoop dat mense se oë sal oopgaan vir die pyn en lyding waaraan die Palestyne onderwerp word.

Lees ook

Israeliese en Suid-Afrikaanse burgers se redes vir toetrede tot die Palestynse stryd

Israel: ondubbelsinnig ondemokraties

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top