LitNet Akademies se Einstein-kompetisie: nie so maklik as wat dit dalk lyk nie

  • 3

LitNet Akademies se Einstein-kompetisie, waarin jong akademici hulle navorsing moet opsom in tien karakters minder as 'n Twitter-boodskap, is nie so maklik as wat dit dalk lyk nie. Pascal het eenkeer vir iemand ekskuus gevra vir 'n lang brief, want hy het nie tyd gehad om 'n korte te skryf nie. Wanneer die teiken net 130 karakters is, raak dit nogal lastig.

Ek het probeer om aan eie bas te voel hoe dit gedoen word, deur die twee eerste Natuurwetenskap-artikels wat op LitNet Akademies verskyn het, albei oor gevorderde wiskundige werk, na die gevraagde lengte te verkort.

Dit was heel gou duidelik dat 'n mens nie kan begin by die opsomming van ongeveer 300 woorde nie. Dit het ten doel om aan ingeligte lesers mee te deel presies wat in hierdie geval nuut is. Die aspek wat vir die gewone leser interessant gaan wees, is dalk iets wat vir die deskundige nie genoem hoef te word nie.

'n Mens moet, weliswaar vlugtig, deur die hele artikel blaai en die pitkos uithaal wat die punt van die opsomming gaan vorm. Dan skryf jy dit neer en kom agter dat dit ongelukkig te lank is. Nou begin jy lang woorde deur kortes vervang, onnodig omskrywings uithaal, ens.

In die eerste weergawe van volgende opsomming het ek aanvanklik die presiese getal "3 200 285 563 453 440 000" gebruik, wat 25 karakters lank is (spasies tel, ongelukkig). In die verkorting na "3 miljard miljard" (17 karakters) gaan inligting verlore, maar die kern bly. Ook moes "vierkantige skikkings" verkort word na "patrone", wat boonop vir die gewone leser dalk meer sê.

Ons tel 3 miljard miljard patrone deur hulle te klassifiseer en talle rekenaars tegelyk aan een klas op 'n slag te laat werk. — Alewyn Burger, Martin Kidd en Jan van Vuuren.

In die volgende opsomming het daar aanvanklik "herhaaldelik uitsteeksels weg te skaaf en gate op te vul" gestaan. Die twee selfstandige naamwoorde is weggelaat, maar dit was steeds te lank. Nadat "herhaaldelik" met "telkens" te vervang is, pas dit in.

As jy 'n growwe kontoer glad maak deur telkens weg te skaaf en op te vul, sal die resultaat tussen maklik berekenbare grense lê. — Carl Rohwer.

Dit neem byna 'n halfuur om een so 'n verdigting te maak. 'n Haastige skrywer kan maklik 'n hele bladsy in daardie tyd intik. Maar die eindresultaat is die moeite werd. Hoewel dalk nie oral Germaanse Afrikaans soos party puriste vereis nie, is dit inderdaad "Gespierde Afrikaans".

Dirk Laurie
LitNet Akademies:  Redakteur Natuurwetenskappe

  • 3

Kommentaar

  • Of seker eintlik drie-biljoen-een-miljoen; begin met die grootste soos byvoorbeeld twee-duisend-en-sestien.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top