LitNet Akademies-resensie-essay: Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden

  • 0

(Spoiler alert vooraf. Louise Viljoen waarsku in hierdie resensie dat dit nié bedoel is vir diegene wat nog nie die roman gelees het en graag deur die verwikkelinge verras wil word nie.)

Die biblioteek aan die einde van die wêreld
Etienne van Heerden

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624089216

1. Eietydse kwessies

Dit was nog altyd ’n kenmerk van Etienne van Heerden se romans dat hy sy stof haal uit die eietydse en die aktuele. Sy Casspirs en Campari’s (1991) eindig byvoorbeeld met ’n toneel wat die geboorte van die nuwe Suid-Afrika uit die donker tonnel van die voorafgaande jare simboliseer. Sy jongste roman, Die biblioteek aan die einde van die wêreld, is ’n poging om ’n greep te kry op onlangse gebeure in Suid-Afrika, meer spesifiek die gebeure rondom die #RhodesMustFall- en #FeesMustFall-bewegings van 2015 en 2016, die onseker posisie van Afrikaners en Afrikaans in die huidige omstandighede en die tegnologiese ontwikkelinge wat dit moontlik maak om mense te alle tye te monitor. Die roman is dus ’n ambisieuse poging om poolshoogte te neem van belangrike verwikkelinge in Suid-Afrika en die groter wêreld.

Ten einde ’n veelkantige blik op die gebeure te kry, stel die roman ’n aantal karakters teenoor mekaar op. Die belangrikste van hierdie karakters is die jong swart aktivis Thuli Khumalo, een van die voorste Valliste en dogter van die struggleveteraan Cat Khumalo, wat bekend is daarvoor dat hy ’n vertroueling is van president Zuma (hier slegs Nommer Een genoem). Teenoor haar staan Ian Brand, ’n Afrikanerman in sy vroeë veertigs, ’n prokureur en eertydse Rhodes-beurshouer, al is dit dan ’n man met ’n ernstige sielkundige knou wat hy in die Grensoorlog opgedoen het. Hulle leer mekaar ken by die Universiteit van Kaapstad, waar hulle ’n seminaar in vertaalkunde volg en die studente-opstande besig is om in alle felheid toe te neem. Dié seminaar lewer twee verdere karakters op wat die mosaïek van Suid-Afrikaansheid moet aanvul: die bruin man, Jerome Maarman, wat sukkel om siel en liggaam aanmekaar te hou terwyl hy studeer, en hulle dosent, dr Eliot, die spreekwoordelike Engelse liberaal.

Hierdie sentrale karaktergroep word aangevul met ’n hele galery van karakters wat elk memorabel is uit eie reg: die struggleveteraan Cat Khumalo en sy makker Sello, wat ’n meester is van kamoeflering en intrige; die plastiese chirurg Piekenier Leqluerck en sy faktotum Snaar Windvogel (bekend uit twee vorige Van Heerden-romans, In stede van die liefde en Klimtol); die Stellenbosse sakeman Groot of Grotius de Grootte, wat planne het om die Afrikanerbevolking te beveilig in omheinde gemeenskappe met omvattende sigbewaking en die handelaar in bordspeletjies, Bill, met sy kantoor in dié deel van Bellville wat Klein Ethiopië genoem word; ook die elegante uitgewer Elizabeth, wat Ian Brand se seksmaat en Thuli se vriendin is. Daar is ook die geheimsinnige dr Zhou, Mandaryns-dosent by die Universiteit van Kaapstad wat vir Thuli klasgee en haar help met kontakte in Sjanghai wanneer sy besluit om China te besoek. Tipies van Van Heerden as romansier wemel dit van die eksentrisiteit en uitspattigheid, met sommige van die karakters wat op die rand van geloofwaardigheid dans, gelukkig sonder dat hulle ooit daarvan afval.

Soos vantevore, bewys Van Heerden homself as meesterbouer van romans deur sy narratief so te konstrueer dat dit deurgaans die aandag van die leser behou deur perspektiefwisselings, tempoversnellings, stylverskuiwings, terugflitse en tergende vooruitwysings. Die roman open byvoorbeeld met ’n toneel van Thuli wat in die water van die Bund by Sjanghai dryf met ’n pyl in haar rug, maar die verteller wys ons daarop dat dié gebeure eers veel later gaan afspeel. Verder laveer die roman soos ’n seiljag in die suidoostewind op Tafelbaai tussen Thuli en Ian se verhale: eers die een se perspektief en dan, teenstrydig daarmee, die ander een s’n. Soms word die vertellings vanuit hulle perspektief afgewissel met ek-vertellings deur Jerome Maarman en soms met kort flitse uit die perspektief van die kruisboogskutter.

Van Heerden noem Die biblioteek aan die einde van die wêreld self in sy nawoord ’n “ideëroman”, wat impliseer dat die karakters en handeling so gekonstrueer word dat dit bepaalde idees belig. Dit is inderdaad so dat ’n narratief dikwels veel beter daarin slaag om die kompleksiteit van persoonlike motiewe, ingewikkelde oorsake en onverwagte gevolge betrokke by die uitspeel van die geskiedenis te verklaar as wat ’n abstrakte relaas dit kan doen. Die idees wat hier fiksionele liggaam kry, is veral die lewensopvattings en dryfvere van jong swart mense in Suid-Afrika (in hierdie geval van ’n jong vrou wat uitermate krities is oor wit mense se rol in Suid-Afrika, maar ook bereid is om die motiewe van haar politikus-vader te bevraagteken); die filosofie en beweegredes van Afrikaners soos Ian wat hom as “lefty” en eertydse Afrikanerdissident nie tuis voel by die regses nie, maar hom ook nie daarvan kan weerhou om kritiek te lewer op omstandighede in Suid-Afrika nie, en die implikasies van die paring van kapitalistiese geldsug en politieke magslus met die nuwe tegnologieë van sosiale media en sigbewaking.

Dit is haas onmoontlik om oor Die biblioteek aan die einde van die wêreld as ideëroman kommentaar te lewer en dit te probeer beoordeel sonder om sommige van die belangrikste plotverwikkelings te onthul en die afloop daarvan te verklap. Hiermee dus ’n waarskuwing dat hierdie resensie nié bedoel is vir diegene wat nog nie die roman gelees het nie en graag deur die verwikkelinge verras wil word nie. Die vernuftige wyse waarop Van Heerden in die loop van die narratief jou lesersverwagtinge fnuik, jou momente van skeptisisme troef en jou nuuskierigheid bevredig, is inderdaad een van die genoeglikste elemente van die roman, so stop hier indien jy nog nie die roman klaar gelees het nie.

2. Thuli, die Fall-beweging en vaderverraad

Soos reeds gesê, word die idees of gedagtekomplekse aan die romankarakters geknoop. Die vrae na die motiewe en oortuigings van die studente van die Fall-beweging word hoofsaaklik vanuit Thuli se perspektief belig. Sy speel ’n belangrike rol in die veldtog en word uiteindelik deur die polisie met rubberkoeëls in die rug geskiet, ’n insident wat dalk gelees kan word as simbolies van die wyse waarop jong swart mense in Suid-Afrika deur die maghebbers in die steek gelaat is. Sy artikuleer die studente se afkeer van die rassisme en seksisme inherent in die koloniale konsepte en epistemologieë wat steeds Suid-Afrikaanse universiteite beheers. Sy spoeg ook gereeld haar minagting vir Ian se idees in hulle vertaalseminaar uit, ten spyte van die feit dat sy soms ’n rygeleentheid van hom aanvaar en hom op die ou end waarsku dat sy lewe in gevaar is.

Studente kom in vrede tydens die #FeesMustFall-beweging (Foto: Myolisi, Wikimedia Commons, CC BY-SA 4.0)

Sy het grootgeword in Londen, waar haar ouers in ballingskap was, en het na die bevryding van 1994 saam met hulle na Suid-Afrika teruggekeer. Sy is intens lief vir haar pa, maar ook krities oor die ouer generasie se manier van doen, en huiwer nie om dit te sê nie. Sy raak mettertyd agterdogtig oor haar pa en sy vriend Sello se doen en late, soseer dat sy begin ondersoek instel na hulle geheime bedrywighede. Vanweë haar betrokkenheid as sensitiwiteitsleser by die uitgewershuis waarvoor Elizabeth werk, maak sy ’n voorstel om ’n manuskrip oor haar verhouding met haar pa te skryf waarvoor sy na Sjanghai moet gaan omdat haar pa duidelik daar belange het. Hier maak Thuli uiteenlopende ervarings mee: Sy begin haar verblyf deur onder ’n trap in ’n vervalle gebou se ingangsportaal te loseer, en wanneer sy dit nie meer kan verduur nie, verhuis sy na die Astor Hotel op die rekening van haar pa. Sy kry geheimsinnige aanwysings van dr Zhou oor ’n boekwinkel wat sy moet besoek en doen uiteindelik ’n Chinese minnaar Jun op wat haar onder andere neem na die Instituut vir Aanmoediging in ’n ongenoemde Chinese stad waar sy – tot haar pa se gramskap – oorreed word om ’n duisend rekenaars van die Chinese regering namens die Fall-beweging te aanvaar. Deurgaans is sy besig om aan die boek te skryf waarin sy, volgens haar eie woorde, vaderverraad pleeg, en stuur sy dele daarvan aan Elizabeth as haar uitgewer.

Die roman onthul mettertyd wat die geheime projek van haar pa en Sello is wat haar daartoe dryf om die boek te skryf. Dit is veral op hierdie punt dat die sogenaamde bederwerwaarskuwing van pas is, omdat ’n mens nie hieroor kan skryf sonder om die afloop van die roman te verklap nie. Thuli kom agter dat haar pa en Sello “Operasie Amok” (’n verwysing na die studente-opstande, die afbrand van treine en lorries op die land se hoofroetes, plaasmoorde onder eliteboere in die Boland, taxi-oorloë en planne vir grondonteiening) orkestreer sodat Suid-Afrika onregeerbaar kan raak. Dit sal Nommer Een die geleentheid gee om ’n noodtoestand uit te vaardig, wat op sy beurt beteken dat hy lank genoeg aan bewind sal bly om amptelike goedkeuring te gee aan haar pa en Sello se planne vir die implementering van ’n omvattende stelsel van meeluistering in die vorm van Operasie BigEar wat vir hulle miljarde rande in die sak sal bring.

Hierdie elemente van die romanintrige, naamlik dat die studente-opstande georkestreer is deur Cat Khumalo en sy vriend Sello (met die hulp van die plastiese chirurg Piekenier) sodat hulle Zuma aan bewind kan hou en miljarde rande wins kan maak uit hulle projek om meeluister- en sigbewakingsapparaat uit China in Suid-Afrika te ontplooi, is een van die mees gewaagde idees wat die roman opper en miskien ’n voorstel wat ’n mens slegs binne die konteks van fiksie kan maak. Ten spyte van die feit dat hierdie interpretasie van die oorsake onderliggend aan die studente-opstande van 2015 en 2016 vir ’n goeie storie sorg, is dit as idee minder oortuigend. Dit vereenvoudig die gebeure tot ’n korrupte plan om geld te maak en neem op dié manier iets weg van die komplekse en onbestuurbare oorsake onderliggend aan die opstande in Suid-Afrika. Dit suggereer ook dat die verskillende rolspelers in die opstande (onder wie Thuli) nie werklik beskik oor eienaarskap van die verset nie, ook dat hulle nie die agentskap het wat nodig is om hulle idees van opstand selfstandig te ontwikkel nie. Die uitbeelding van Thuli se komplekse verhouding met haar pa en die feit dat Cat Khumalo se dogter vir hom uiteindelik belangriker is as sy grootse idee om die ganse Suid-Afrika onder sigbewaking te plaas, gee egter wel ’n aanduiding van die rol wat menslike faktore in die verloop van die geskiedenis speel. Die verhouding tussen Thuli en haar pa kan waarskynlik gelees word as simbolies van die jong swart mense in Suid-Afrika se verset teen die koloniale verlede én die korrupte ANC-vaders. Die slot suggereer dat ten spyte van die feit dat die jongmens baie naby daaraan kom om in die proses te sterf, die liefde van die vader vir die kind tog tussenbeide tree om die kind te probeer red.

3. Ian, die Afrikaner en Afrikaans, die biblioteek aan die einde van die wêreld

Hierteenoor word die posisie van Afrikaners en Afrikaans in die huidige Suid-Afrika veral aan die hand van Ian Brand as romankarakter ondersoek. Ian is op die oog af ’n byna aanstootlik selfversekerde en voortvarende Afrikaner wat ’n vennoot is by ’n suksesvolle regspraktyk. Dit blyk egter ’n front te wees wat ernstige posttraumatiese stres en ’n aansienlike mate van onsekerheid verberg. Hy het as jongman ’n traumatiese insident tydens die Grensoorlog beleef wat behels het dat hy homself moes red ten koste van iemand anders, ’n voorval wat hom steeds jaag. (Indien ’n mens die tydsomme maak, sou Ian – in sy vroeë veertigs in 2016 – wel heel jonk moes gewees het tydens dié insident, op die oudste 17 jaar toe die laaste gevegte in Angola plaasgevind het in 1988.) Hy deel die studenteprotesteerders se afkeer van Rhodes en vertel Thuli dat Jameson, na wie Jameson Hall op die kampus van die Universiteit van Kaapstad vernoem is, ook sý mense verneder het. Hy is bekommerd oor die voortbestaan van Afrikaans en wys sy medestudente in die vertaalseminaar op die ongemaklike ironie dat die Engels wat hulle gebruik, eweneens ’n koloniseerderstaal is.

Die verwydering van Cecil John Rhodes se standbeeld by die Universiteit van Kaapstad in 2015, na aanleiding van die #RhodesMustFall-beweging

Die motoriese moment in Ian se val as karakter is dié waarop hy ’n kritiese twiet oor ’n swart doeanebeampte by die Kaapstad-lughawe se tydsbegrip die wêreld instuur. Dit brandmerk hom as ’n regse “boer” en opperste rassis wat terughunker na die koloniale era en apartheid. Dit maak hom persona non grata in Suid-Afrika en beroof hom ook van sy werk, sy geloofwaardigheid, sy vryheid van beweging en die reg om ’n opinie uit te spreek. Hy word deur regse Afrikaners geëien as ’n held, maar deur die res van die land gesien as ’n rassis ten spyte van die feit dat hy hom telkens probeer losmaak van regse pogings om hom te koöpteer. Ian se situasie sinspeel duidelik op uitlatings soos dié van die filosoof Samantha Vice, wat indertyd geskryf het dat wit mense in Suid-Afrika eintlik nie meer geregtig is daarop om ’n opinie uit te spreek nie en hulle van die publieke diskoers moet onttrek.

Ian is egter die soort karakter wat hom nie daarvan kan weerhou om met “opsetlikheid en woede, soos ’n kleuter wat die gesag van sy ouers uitdaag” (353) te reageer nie. Hy word deur die veldtog wat volg op sy onbesonne twiet gedwing om onder te duik en homself van die openbare toneel te verwyder. Dit is eers later dat dit blyk dat die twitter-veldtog teen Ian kunsmatig aan die gang gehou word as deel van Operasie Amok, bedink deur Cat Khumalo en Sello, met die hulp van Piekenier. Hy wend sekere desperate pogings aan om homself besig te hou en te oorleef: Hy maak kontak met die speletjiesmagnaat Bill, vlieg na Namibië met die plan om saam met ’n toevallige kennis ’n dokumentêr oor die Grensoorlog te maak, en ontmoet vir Grotius, wat dieselfde soort sigbewakingsplanne het as Cat en Sello, maar dit wil aanwend om Afrikaner-gemeenskappe te beveilig. Boonop het hy ’n teisterende verhouding met die uitgewer Elizabeth wat uit vurige seksuele koppelings bestaan, maar min emosionele troos bied. Uiteindelik besluit hy om ’n letterlike gesigsverandering te ondergaan sodat hy onherkenbaar kan wees. Simbolies gesproke mag Ian se situasie daarop sinspeel dat Afrikaners in Suid-Afrika onder verdenking is dat hulle slegs ’n regse, rassistiese verhouding met die hede kan hê en mettertyd gedwing sal word om ’n gesigsverandering te ondergaan wat hulle onherkenbaar sal verander. Dit alles word gekoppel aan die vrae oor sigbewaking wat tot die beskikking van regerings (China en enige korrupte, magsugtige regering wat daarvoor sal betaal) en geldmagte (soos dié van Cat Khumalo of Groot de Grootte) kan kom om daarmee gewone burgers se vryheid van spraak en beweging te bedreig en hulle lewens te beheer.

Die ander belangrike idee wat rondom Ian as karakter ontplooi word, is dié van die “biblioteek aan die einde van die wêreld”. Ian se droom oor ’n “biblioteek aan die einde van die wêreld” is gebaseer op sy kinderdae toe sy pa hulle geneem het na die dorpsbiblioteek in die Karoo waar hy as kind baie tyd deurgebring het. Sy idee is dat die biblioteek in ’n onwaarskynlike uithoek van die Karoo geleë moet wees, ’n plek aan die einde van ’n onbelangrike grondpad. Dit moet op geen manier geassosieer word met monetêre waarde nie: die enigste toegangsfooi tot hierdie biblioteek sal ’n bottel water uit die besoeker se omgewing van herkoms wees wat gestort word in die dam in die agterplaas van die biblioteek. Dit moet ’n toevlug wees vir dié soort geleerdes wat wil vlug van die moderne universiteit as besigheid en ’n ruimte skep vir die aandagtige en geduldige verwerwing van kennis.

’n Karoolandskap suid van Matjiesfontein (Foto: Winfried Bruenken, Wikimedia Commons, CC BY-SA 2.5)

Ian se droom oor die biblioteek word ook geskakel met sy opvatting dat die idee van ’n biblioteek tydens die Valliste se opstand onder beleg is. Hulle aanval op die Universiteit van Kaapstad se Jagger-biblioteek en hulle beskuldiging dat dit verteenwoordigend is van ’n Westerse kultuur wat nié vir hulle ’n veilige ruimte skep nie, gee verdere tekstuur en kontoer aan Ian se idee oor die soort biblioteek wat hy wil oprig. Wat hom betref, moet dit juis nié ’n “safe space” wees nie. Dit moet ’n plek wees waar jy gekonfronteer word met alles wat jou ongemaklik maak. Verder moet dit ’n plek wees waar geen sekerhede heers nie, maar eerder “die kuns van huiwering, van paradoks en onpeilbaarheid” (625). Daarom gaan steel hy met die hulp van Piekenier en sy trawante die kunswerke wat tydens die #RhodesMustFall-betogings as onaanvaarbaar gebrandmerk is en deur die Universiteit van Kaapstad in ’n stoorruimte weggebêre is. Hy wil dit ophang in sy biblioteek sodat die besoekers daar “straffeloos en vry die geseling van kuns [kan] ondergaan” (628). Hiernaas is daar ook ’n skuur wat objekte bevat wat herinner aan die ergste vergrype van die geskiedenis (’n dompas, ’n “Slegs vir Blankes”-bordjie, ’n “Kill all Jews”-graffito) waar die besoeker sigself bereid moet verklaar om daardeur “beledig en ontstig” te word. Onderliggend aan die idee van die biblioteek is dus die ideaal van vryheid van spraak, ook van die onveiligheid en trauma wat kennis van die wêreld en die afskuwelikhede van die geskiedenis kan meebring.

’n Pikante besonderheid is dat die uiteindelike toesighouer by hierdie biblioteek Snaar is, boorling van die Karoo wat in sy lewe onuitspreeklike ellende beleef het en sy woede teenoor geweldenaars laat geld het deur hulle met sy kruisboog af te maai. Hy beland dus na sy verblyf by Piekenier, wat hom wel raakgesien en as individu geëien het, by die biblioteek aan die einde van die grondpad, en lei daar ’n gedempte lewe wat die waardes van die biblioteek weerspieël. Agter hom as “hoeder van hierdie boedel” in “hierdie buitepos van die dink” (626) hang die kruisboog waarmee hy amok gesaai het.

4. Twee slotte

Die uitsig vanaf die Bund in Sjanghai

Die roman word met twee slotte afgesluit. Die eerste slottoneel word gevolg deur die woorde “WORD VERVOLG”, wat suggereer dat dit nie die einde van die verhaal is nie. Hierdie slottoneel keer terug na die roman se begin: Dit beskryf die reeks gebeure wat voorafgaan aan die moment waarop Thuli deur die pyl uit die kruisboog getref word en in die water van die Bund in Sjanghai val. Dit is ook die moment waarop haar pa, wat etlike waarskuwende boodskappe aan haar gestuur het, op die toneel aankom en in die water spring om haar te help met die teddie wat hy vir haar as kind gegee het in sy hand. Die teddie is verteenwoordigend van beide die sorgsame liefde vir haar en die politieke intriges in sy lewe, maar die slot suggereer dat hy uiteindelik ’n keuse maak vir sy dogter.

By die lees van die woorde “word vervolg” besef die leser dat hierdie verhaal nie afgesluit is nie en dat daar waarskynlik nuwe verwikkelinge op die horison lê. ’n Mens hoop ook dat daar in ’n moontlike vervolg aandag gegee sal word aan dié verhaalelemente wat nie volledig ontwikkel is nie. Die karakter Jerome Maarman (die enigste aan wie die ek-vertelvorm gegun word) kry byvoorbeeld nie die kans om volledig tot sy reg te kom as potensiële teenspeler van die swart vrou Thuli en die wit mans Ian en dr Eliot nie. Hy kom uit ’n agtergrond van ontsegging en leef in erbarmlike omstandighede terwyl hy probeer studeer; hy weier om hom te laat koöpteer deur Ian in sy argumente oor Afrikaans, maar laat hom wel oortuig om handlanger te wees vir die studente-opstandelinge. Simbolies gesproke is Jerome ’n belangrike tussenfiguur wat deur beide swart en wit misken word, en dr Eliot die Engelse liberaal wat deur die swart studente geminag en as manipuleerbare swakkeling beskou word. Die outeur sou van Jerome ’n sterker karakter met meer verteltyd kon maak: syne is ’n verhaal wat ook vertel moet word. Ook die motiewe agter die plastiese chirurg dr Piekenier Leqluerck se betrokkenheid by Cat Khumalo en Sello se planne word nie volledig duidelik gemaak nie en sou in ’n vervolgroman helderder belig kon word.

Die eerste slot van die roman word gevolg deur ’n vertelling getitel “Agterna. Heathrow, Londen – Terminaal 5”. In dié afdeling is Ian Brand, dié keer as ek-spreker, aan die woord as wêreldreisiger wat hom saam met ’n groep ander wêreldburgers wy aan die stryd teen die wyse waarop sosiale media, sigbewaking, inligtingstelsels en masjienleer besig is om sekere menslike vryhede te bedreig. Hy lewer sy bydrae as regskenner op die gebied van ingeligte instemming. Hierdie deel van die roman skakel dus – soos die intrige in die res van die roman (Cat en Sello se planne vir BigEar, Thuli se ondervindings by die Instituut vir Aanmoediging, Ian se val as gevolg van sy twiet, Grotius se planne vir sigbewaking in sekuriteitskomplekse) – met die ander groot idee of vraagstuk wat die roman ondersoek, naamlik die idee dat die mensdom uitgelewer is aan die herkenbaarheid wat sosiale media bring en die potensiële gevolge van meeluistering en gesigsherkenningstelsels. Cat Khumalo en Sello se planne om BigEar te installeer op ongeveer alle elektroniese apparate wat mense in Suid-Afrika gebruik, impliseer dat die regering deur meeluistering en die insameling van data uiteindelik volledige beheer oor die bevolking kan kry. Grotius se planne om sekuriteitswoongebiede met gesigsherkenningstelsels te bewaak, gee te kenne dat hulle enklaves sal kan oprig wat hulleself volledig afsluit van die res van die gemeenskap. Die roman suggereer verder dat hierdie tegnologie veral in die hande van China lê wat dit sal kan gebruik om sy mag oor die res van die wêreld uit te brei. Daarnaas speel die roman ook met die idee (byvoorbeeld in Leqluerck se operasies om Snaar Windvogel te help om ’n geslagsverandering te ondergaan en sy projek om van die popliteale fossa – die agterkant van die knie – ’n begeerlike en opereerbare deel van die liggaam te maak) dat chirurgiese ingrepe op die menslike liggaam uiteindelik kan lei tot ’n punt waar die biologiese mens masjien begin word en kunsmatige intelligensie ’n steeds belangriker rol sal begin speel.

Die roman se tweede slot keer terug na die herhaalde sinspelings op Ian Brand as ’n soort Bart Nel-figuur in Van Melle se roman Bart Nel. In die gedeeltes wat voorafgaan, word Brand herhaaldelik in verband gebring met Bart Nel wat ten slotte, nadat hy álles verloor het wat vir hom belangrik was (sy familie, sy plaas, sy politieke ideaal van onafhanklikheid), die uitspraak maak: “En ek is nog hy.” Ian Brand is dus ’n voortsetting van die literêre tipe van die Afrikaner wat nie wyk van sy oortuigings nie, wat ten spyte van kwalike gevolge by sy standpunte bly en die verliese wat dit bring byna gelate aanvaar. Dit is om hierdie rede dat ’n mens wonder oor die vertelling ná die roman se eerste slot waarin Ian voorgehou word as ’n globale stryder in die stryd teen die skadelike gevolge van tegnologiese ontwikkelinge. Presies hoe hy die oorgang maak van ’n posisie van abjekte uitgeworpenheid in Suid-Afrika na lid van ’n uitgelese groep mense van regoor die wêreld wat ’n aksiegroep vorm teen die infiltrasie van mense se lewens deur sigbewakingstelsels en die OECD (Organisation for Economic Cooperation and Development) adviseer oor kunsmatige intelligensie, spel die roman nie vir ons uit nie. Vir my gevoel neem dié toevoeging tot die roman waarin Ian voorgehou word as ’n ietwat melankoliese, maar tog selfversekerde wêreldburger, iets weg van die tragiek van sy posisie as ’n soort Bart Nel-figuur wat alles kwyt is maar tog sy identiteit behou. Vanuit ’n ander hoek gesien, kan die slot egter suggereer dat die Afrikaner sal kan oorleef slegs indien hy opgaan in ’n globale bestaan.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld is ’n waagmoedige en provokatiewe besinning op ons tyd en die vraagstukke wat dit opwerp. Van Heerden kry dit reg om van die belangrikste probleme wat Suid-Afrika en ook die groter wêreld konfronteer, aan te spreek in ’n verbeeldingryke fiksionele struktuur waarin oortuigende karakters mekaar opponeer, beïnvloed en bepaal. Alhoewel hy wel daarin slaag om van die jong swart vrou Thuli en haar familie geloofwaardige karakters te maak, kry ek die gevoel dat die roman se swaartepunt by die karakter Ian lê. Die mees aantreklike element in die boek is die idee van ’n biblioteek, gevestig in ’n godverlate plek aan die einde van die wêreld, wat die ou ideale van die langsame verwerwing van kennis deur toewyding en die gewillige blootstelling aan die gevaar van omgaan met idees wat nie noodwendig met jou eie strook nie, verteenwoordig. Dit is veral op hierdie punt dat die roman my oorrompel en oortuig het.

Lees ook:

Video: Stellenbosch-bekendstelling van Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden

Resensie: Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top