Is Cameron regter in sy eie saak?

  • 2

Jos Floor (foto verskaf)

Ek is bekommerd oor die terugdringing van Afrikaans as onderrigtaal. Maar alles draai nie altyd net om Afrikaans nie. Ons staatsbestel is gebou op beginsels wat 'n vrye demokratiese samelewing onderskryf. Daarom sal Gelyke Kanse se weerhouding van beswaar teen oudregter Cameron se benoeming as kanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), of selfs toestemming, nooit voldoende kan wees om 'n sous van regmatigheid oor die gebeure te giet nie.

Die gevolge van die toenadering tot regter Cameron en sy uiteindelike aanstelling as kanselier van die US terwyl hy in dieselfde tydperk opgetree het as voorsittende regter in 'n saak waarin dieselfde US 'n party was, is nie beperk tot Gelyke Kanse se hofsaak nie. Dit is wel die konteks waarin hierdie ongelukkige insident afspeel. Die groter vraag vir ons regstelsel in sy geheel is of regter Cameron 'n groter beginsel oortree het, en selfs miskien sy ampseed verbreek het.

Die uitspraak van die saak tussen Gelyke Kanse en die US is op 8 Augustus 2019 aangehoor en die uitspraak is op 10 Oktober 2019 (simbolies op wat voorheen Krugerdag was) gelewer. Op 25 September 2019 het die US aangekondig dat regter Cameron verkies is as kanselier van die universiteit. Op 30 Augustus 2019 het regter Cameron volgens berigte 'n e-pos aan Wim de Villiers geskryf dat hy die nominasie as kanselier aanvaar. Regter Cameron hom daartoe verbind om die hoogste amp by die universiteit op te neem terwyl die uitspraak van die saak waarin hy die voorsittende regter was, nog hangende was.

Twee belangrike beginsels kom hier in spel. Die een is die onafhanklikheid van ons howe en die ander is die reëls van natuurlike geregtigheid.

Artikel 165(2) van die Grondwet bepaal die volgende oor die onafhanklikheid van ons howe:

Die howe is onafhanklik en onderworpe slegs aan die Grondwet en die reg, wat hulle onpartydig en sonder vrees, begunstiging of vooroordeel moet toepas.

Die aanstelling as kanselier van 'n universiteit is sekerlik 'n baie grootse eer vir enige alumnus. Dit is 'n invloedryke posisie wat hoë aansien geniet, en verskaf 'n platform wat sekerlik baie deure kan oopmaak. Dit is 'n fantastiese geleentheid vir enige pensioenaris. Daar kan verwag word van die persoon wat die posisie as kanselier beklee om alles in sy vermoë te doen om die beste belange van die instelling op sy hart te dra.

In die oë van die man op straat is dit baie moeilik om te sien hoe regter Cameron sy plig om as regter onpartydig te handel kan versoen met sy plig as kanselier om in die beste belang van Stellenbosch-universiteit te handel.

Die prentjie vertroebel verder wanneer die huiwerende regter, nadat hy die rektor se aanvanklike direkte toenadering afgewys het, oorgehaal is deur 'n groep welvarende donateurs wat hom genader het as gesante van die universiteit om tog die kanselierskap ten spyte van vroeëre afwysiging te aanvaar (https://www.politicsweb.co.za/documents/the-su-gelyke-kanse-and-concourt-controversy-a-tim). Dit lyk morsig.

Regstelsels is oor die millennia geskoei op die basiese beginsels van natuurlike geregtigheid. Die twee basiese reëls van natuurlike geregtigheid is dat alle partye tot 'n saak aangehoor moet word en dat niemand 'n regter in sy eie saak mag wees nie. Waarmee ons hier te doen het, is dus nie net 'n regter wat onbehoorlik deur 'n litigant gekontak is nie, maar veel erger: die indruk is geskep dat regter Cameron as inkomende kanselier van die universiteit regter in sy eie saak was. Op 10 Oktober 2019, die datum waarop die uitspraak gelewer is, het hy reeds die aanstelling as kanselier aanvaar.

Bo en behalwe die twee beginsels waarna reeds verwys is, is die aanstelling van regter Cameron as kanselier ook vanuit 'n korporatiewe bestuursoogpunt onbevredigend. Daar is meerdere regsreëls geformuleer om botsings van belange te verhoed deur te verhinder dat persone in posisies van invloed 'n loopbaanskuif maak na 'n nuwe posisie waar hulle moontlik die vrugte mag pluk van besluite wat hulle in die vorige betrekking geneem het. Senior amptenare mag byvoorbeeld nie direk skuif vanuit 'n invloedryke pos in die staatsdiens na 'n lonende posisie in die privaatsektor nie. Reguleerders mag nie direk na uittrede in diens tree by maatskappye wat deur hulle gereguleer is nie. Afkoelperiodes word vereis, sogenaamde tuinmakersverlof. Die rede hiervoor is eenvoudig: Ons wil verhoed dat persone in posisies van mag vir hulleself 'n gemaklike bed voorberei waarin hulle later snoesig kan inkruip. In hierdie geval het die verkiesing as kanselier die lewering van die uitspraak op 10 Oktober 2019 voorafgegaan. Die klok van enige afkoelperiode het nooit begin tik nie.

Die betrokkenheid van regters en landdroste by organisasies buite die regbank word altyd met groot omsigtigheid bestuur. Daar is omvattende etiese riglyne om regters te help om nie in situasies te beland wat hulle partydigheid onder verdenking kan plaas nie. In een so 'n geval het die Landdroskommissie self tot aksie oorgegaan en 'n landdros versoek om uit te tree van die beheerliggaam van 'n skool omdat daar beweringe van institusionele rassisme by die betrokke skool was. Die onpartydigheid van regters en landdroste is so belangrik dat die kommissie by voorbaat opgetree het sodat daar nie miskien later 'n sweempie van partydigheid in die lug sou hang nie.

Die Universiteit Stellenbosch het afgetrede regter Burton Fourie aangestel om 'n ondersoek van stapel te stuur na die gebeure rondom regter Cameron se aanstelling as kanselier. Dit is slegs 'n interne ondersoek deur die universiteit en die uitkoms daarvan sal nooit die sweem van wantroue wat nou oor regter Cameron se partydigheid hang met betrekking tot die Gelyke Kanse-uitspraak kan wegwerk nie.

Met die aanstelling van Thuli Madonsela as hoogleraar het die US 'n helder sein uitgestuur dat die universiteit die hoogste standaarde van onafhanklike regspleging onderskryf. Hierdie insident ondermyn dit.

Lees ook:

US Konvokasie 2019: taalkolonialisme op Maties en die verhaal van Owain Glyndŵr

 

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Gustaf Pienaar

    Jos Floor dra 'n splinternuwe perspektief by tot die US se kanselierskandaal: Dat regter Cameron inderwaarheid "'n regter in sy eie saak was". Ek het nog nie voorheen só daaraan gedink nie. Dit lyk vir my na 'n baie geldige argument. Hierdie ding sal nie gaan lê nie ...

  • Is dit dan werklik 'n geval van 'Wiens brood men eet diens woord men spreekt`
    al is dit ook nog net 'n beloofde brood?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top