Die man agter Nataniël se kostuums

  • 0

Nataniël (foto verskaf) en Floris Louw (foto: http://florislouw.co.za/#blog)

Talentvol. Dit is maar net een woord om Floris Louw, Nataniël se kostuumontwerper, te beskryf. Vindingryk en kreatief is dalk ook goeie woordkeuses. Nataniël dink groot en doen groot. Sy besonderse kostuums is al soos ’n handelsmerk. Floris is die man agter Nataniël wat laasgenoemde se drome moet verwerklik. Soms moet die byna onmoontlike realiseer. Gelukkig skrik Floris nie vir uitdagings nie. Hy ken drome. Hy het self sy kleintyddroom nagejaag.

Elize Perrin het ’n bietjie agter die gordyn met Floris gesels.

Jy en Nataniël werk al ’n geruime tyd saam. Hoe het julle paaie gekruis?

Ek het by die destydse Technikon van Pretoria studeer en in ons tweede jaar het ons ’n semester by Nataniël se destydse ontwerper, James Edward Muller, klas geloop. Hy sou die volgende jaar emigreer en het name aan Nataniël deurgegee van studente wat moontlik by hom sou kon oorneem. My naam was op daardie lys. Nataniël het my gekontak en ek was by hom vir ’n onderhoud. Ek moes ’n hemp, baadjie en jas vir hom maak en hy het sedertdien net nog nie opgehou vra vir kostuums nie.

Nataniël op die verhoog (foto: verskaf)

Ek het gehoor dat jy reeds as kleuter gesê het dat jy eendag gaan klere maak. Waar kom jou liefde vir materiaal en ontwerp vandaan?

Ek het geen idee nie. Ek dink dit is ’n ingebore iets. Ek weet dat ek al van kleuterdae af daarvan gehou het. My Sondagskooljuffrou het vir my ma-hulle gesê dat ek ’n loopbaan in ontwerp moet oorweeg. Ek was gefassineerd met die materiaal waarvan haar klere gemaak was. Moontlik is die saadjie reeds daar geplant.

Wanneer het hierdie droom van jou (om ontwerper te word) begin groei?

Reeds van kleins af was dit my droom. Ek het op ’n jong ouderdom reeds begin klere teken. Dit was van altyd af my ideaal om ’n ontwerper te word. Soos wat ek ouer geraak het, het ek net meer ernstig daaroor geraak. My ma vertel graag dat haar tafeldoeke en nette weggeraak het toe ek nog klein was. Wanneer sy dit opspoor, was dit gewoonlik as uitrusting oor ’n stoel gedrapeer.

Oolich deur Floris Louw (foto: http://florislouw.co.za/#gallery)

Jy het reeds as leerder op hoërskool jou suster se matriekafskeidrok ontwerp. Vertel ’n bietjie meer.

In my suster se matriekjaar was ek in standerd 7 (graad 9). Ons het koppe bymekaar gesit en saam haar rok ontwerp. Dit was ’n baie praktiese rok wat in stukke verdeel was sodat sy dit ongeag die temperatuur van die aand sou kon dra. Dit moes ook later weer gebruik en verander kon word. Ons het die toekoms in gedink. Almal weet hoeveel funksies studente graag bywoon. Ongeveer dieselfde tyd het ek vir my eerste ontwerpkompetisie, die Elna Jong Ontwerper, ingeskryf met ’n soortgelyke rok wat net so prakties en veranderbaar was. Dit was ook die eerste kompetisie wat ek gewen het. As ek nou daaraan dink, was die rokke nogal ’n eenvoudige voorskou van wat sou kom met die kostuums. Die meeste van die werk wat ek nou doen, moet prakties wees en maklik kan verander. Al is die ontwerpe hoe vreemd, dit moet steeds maklik kan aan- en uittrek.

Girl in red deur Floris Louw (foto:http://florislouw.co.za/#gallery)

Foute maak is deel van die leer- en groeiproses. Het van jou planne al soms nie uitgewerk soos beplan nie?

Dit gebeur vir seker. Om kostuums te maak, was nooit deel van die “plan” nie. Ek wou ’n beroemde mode-ontwerper wees wat trou- en aandrokke maak. Vir ’n wyle het ek dit probeer, maar ek het beslis nie die persoonlikheid en geduld daarvoor nie. Toe kom die kostuums op my pad. Dit was ’n geleentheid wat ek nie kon laat verbygaan nie. Ek het definitief ’n talent vir hierdie meer kreatiewe, wilde ontwerpe. Op praktiese vlak tree foute ook in. In die modewêreld is die leuse: “Maak dit werk.” My ma sê graag: “It’s never a disaster; it’s always a new creation.” Ek het nog net een keer ’n kledingstuk gemaak wat onbruikbaar was. Dit was ’n eenvoudige broek wat ek op die skuinste uitgesny het om materiaal te bespaar en toe draai die hele ding in mekaar in … ’n groot les wat ek nooit sal vergeet nie.

Chalkus deur Floris Louw (foto: http://florislouw.co.za/#gallery)

Ons weet Nataniël “gaan groot” met sy vertonings. Watter kostuum of vertoning was jou grootste uitdaging tot nou toe?

Daar is elke jaar ’n uitrusting of twee wat my vir ’n ruk lank onderkry. Dit is gewoonlik meer van die opdragte wat minder te doen het met naaldwerk en meer met skroewe, hout en kabels. Vir sommige van die uitrustings moet ’n mens eerder ’n nutsman wees. Dit gesê, is hierdie uitdagende stukke meestal ook die mees bevredigende uitrustings. Gewoonlik is hulle ook die gehoor se gunstelinge. Verlede jaar se After animals-vertoning was vir my sover nog die uitdagendste met die moeilikste uitrustings. In die vertoning was twee jasse wat eers soos twee trone moes lyk en dan moes verander in koningsjasse. Dit moes alles op die verhoog, voor die gehoor en onder beligting plaasvind. By Huisgenoot Skouspel was Nataniël weer ’n boom vol blare wat binne sekondes moes verander in ’n droë wintersboom met wortels.

Qucuina deur Floris Louw (foto:http://florislouw.co.za/#gallery)

Watter is, volgens jou, jou beste ontwerp tot op hede?

Dit is gewoonlik hierdie moeilike uitrustings. Elke groot jas is gewoonlik vir my die beste en dan probeer ek dit volgende keer oortref. Ek is lief vir hulle almal. Van dié wat vir my uitstaan, is die goue jas wat op De Kat se voorblad verskyn het, asook die groot silwer rok in vanjaar se Mannequin. Nog een wat uitstaan, is die “monsterjas” wat in Rainbow at midnight verskyn het. Die danser was binne-in die jas, waarop die jas losskeur en hy begin ballet dans het. Eintlik is dit ’n onmoontlike vraag om te beantwoord. Ek kan nie eers kies wat my gunstelinguitrusting in elke vertoning was nie; wat nog te sê van ’n gunsteling gedurende my loopbaan!

Waarop is jy die trotsste in jou loopbaan tot op hede?

Ek is trots op elke stuk. Wanneer daar erkenning is vir die werk, maak dit ’n mens ongelooflik trots; ook wanneer daar van my uitrustings in ’n tydskrif of in ’n video verskyn. Ek is trots op elke liewe vertoning waarvan ek deel kon wees. Die materiaal wat ek deesdae vir die kostuums gebruik, maak ek self of verwerk dit. Elke kostuum moet uniek wees. Ons wil nie hê iemand moet materiaal herken wat hulle elders in ’n groothandelaar gesien het nie. Ek maak die hele kostuum self: van die materiaal se aankoop, patroon uitsny, krale- of lapwerk, stikwerk en konstruksie, tot die afronding. Wanneer spertyd my soms inhaal, sit my familie hand by. Ek het die beste familie in die wêreld en ons is baie geheg aan mekaar. My ouma het my eerste omkapmasjien vir my gekoop. Die res van die masjiene, aan die begin van my loopbaan, het ek met kompetisies gewen. Ek kon nie masjiene bekostig nie!

Madam Gneiss young deur Floris Louw (foto: http://florislouw.co.za/#gallery)

Jy woon op die platteland en is dus ver van die stede. Kompliseer dit jou werk? Hoe oorbrug jy die uitdagings?

Dit maak dinge soms nogal moeilik. Ek woon op Hectorspruit, maar doen die meeste van my aankope en produksievergaderings in Pretoria. Ek probeer so twee naweke in ’n maand stad toe gaan. Ons maak dit werk. Ek laat weet wanneer ek in die stad sal wees en dan reël ons vergaderings rondom daardie tye. Ontwerpe word ook per e-pos en WhatsApp aangestuur.

Jy het reeds verskeie Naledi-toekennings ontvang vir jou kostuums. Wat beteken die toekennings vir jou?

Dit is ’n besonder groot eer om te weet dat mense wat in die bedryf werk, dit wat jy doen, raaksien en waardeer. Dit bly ’n onwerklike gevoel. Die Naledi’s is baie goed vir my. Ek is vier keer genomineer en het drie keer gewen. Dit gee mens ook ’n hupstoot wanneer dit moeilik gaan in die ateljee, want jy weet dat die werk wat jy doen, wel raakgesien word.

Is jy ook by ander kunstenaars of projekte betrokke?

Meestal is die werk wat ek doen, gekoppel aan Nataniël. Ek het wel al vir ander bekendes ook klere ontwerp. Ek doen ook illustrasies soos wat projekte inkom, is betrokke by ons familiebesigheid en skilder ook ’n bietjie. Ek is wel ook in Malelane betrokke by grafiese ontwerp.

Ghalene deur Floris Louw (foto: http://florislouw.co.za/#gallery)

Wat wil jy nog graag in die toekoms bereik? Watter drome het jy nog?

Dit is nogal moeilik om te beantwoord. Ek wil nog ryk word (grappie!). Ek sal graag die geleentheid wou hê om kostuums vir ’n buitelandse vertoning te maak, asook kostuums vir flieks. ’n Moontlikheid waaraan ek dink, is om ’n reeks sakke en skoene te ontwerp. Ek het dit ook vreeslik geniet om van Nataniël se boeke te illustreer. Ek sou dit graag meer wou doen. Nog ’n begeerte is om kunsklasse aan jongmense te gee wat ernstig daaroor is om dit as vak te neem.

Watter wenke sou jy aan jongmense gee wat ook ’n loopbaan in mode-ontwerp oorweeg?

Wees passievol en realisties. Besef dat jy baie hard moet werk. Jou beloning gaan nie geld wees nie; dit gaan wees in die resultaat van jou werk. Dit is baie nuttig om besigheidsvaardighede aan te kweek. Ons kreatiewe spul sukkel maar hiermee en ek het nog nie ’n oplossing gevind nie – laat weet my as iemand ’n goeie plan het!

Lees ook:

Skrywersonderhoud: Nataniël oor kunstenaarskap en Kyk na my

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top