Buysdorp, Red Dog en ’n besinning oor die geskiedenis

  • 4

Dit is vir my moeilik om nie op ’n persoonlike manier te reageer op LitNet se versoek om oor die beskuldigings rondom Willem Anker se Buys te skryf nie. Deborah Steinmair is ’n jare lange vriend van my wie se oordeel ek bo baie ander mense s’n vertrou, en toe sy vra of Afrikaanssprekendes dan nie die TLS lees nie, het ek gedink, o gits, ek is ’n ingeskrewe TLS-leser en het die resensie waarin Anker van plagiaat verdink word, glad nie gesien nie. Ek kan my nie ’n meer elegante, groothartige manier voorstel om die saak aan te spreek as wat Deborah dit gedoen het nie. As sy besig is om die sweep te klap, is dit ’n geseling met liefde.

Maar verder moet ek erken, was my eerste reaksie, “So what, Deborah?” Eers toe ek die TLS-resensie gaan lees, kon ek sien hoekom sy die saak te berde bring, al is dit nou maande later. Wat hier volg, is ’n poging om hierdie twee reaksies te probeer versoen.

Ek het onmiddellik teruggedink aan my eerste worsteling met die kwessie van plagiaat, toe ek redakteur van die blaadjie Vlieg aan Tukkies was, doer in die laat 1970’s. Die universiteit het ons verban omdat Koos Prinsloo die p-woord gebruik het, onder andere. Die regse studentekoerant Perdeby, wie se naam ons geparodieer het, het ’n spotprent van ’n vlieg met ’n steekspeld daardeur geplaas onder die opskrif “Musca Antiseptica”. In hierdie omstandighede het Piet Haasbroek, ’n lektor by Tukkies, ontdek dat een van ons skrywers, toe as Daniel de Lange bekend,  ’n passasie uit ’n boek van William Goldman net so in Afrikaans vertaal het, maar met ’n gayherskrywing en tipografiese veranderinge. Baie mense het verklaar dis plagiaat.

Ek het as senior student beskermend teenoor hom gevoel, maar ek het ook gehou van sy moedswilligheid. Afgesien hiervan het ek geweet dit was deel van ’n kreatiewe omgang met sy onmiddellike leefwêreld – beide hierdie aspekte dink ek stem ons almal saam het hom gehelp groei tot die formidabele digter wat hy vandag is. Ek het verklaar dat ek nie dink dit is plagiaat nie en die saak is nie opgehaal tydens my en die redaksie se tugverhore deur die studenteraad en die universiteit nie.

Deesdae, met die ontploffing van sosiale media en die tegnologiese revolusie wat ons besig is om te ondergaan, geskied die duplisering van tekste in ’n gans ander konteks. Destyds moes ons Vlieg op ’n afrolmasjien druk, en daarvoor was daar nie fasiliteite op universiteit nie. Ek kan nie onthou presies hoekom nie, maar ons moes ’n drukmasjien aankarwei na ’n buitekamer in my ouers se huis. Terwyl ek besig was om die logge ding te bewerk, kom ’n eskader Mirages en ander vliegtuie oorgevlieg, want dit was die inhuldiging van die nuwe  staatspresident. Ek het uitgestorm met ’n paar blaaie en dit in die lug geswaai terwyl ek op en af spring en skree: “Vlieg in jou moer in, John Vorster!”

Vandag twiet sy eweknie in gees en posisie, die veel magtiger Donald Trump, elke Amerikaanse oggend sy jongste dwarsklappe van die waarheid direk aan tienmiljoene volgers op sosiale media. Hertwiet jy sy tekste, word dit as ’n soort plagiaat gesien, ten minste as jy ’n lid van die Demokratiese Alliansie is. Die party se LV Dianne Kohler Barnard is gedissiplineer oor die berugte pos wat sy aangestuur het van iemand wat gereken het dinge was beter onder PW Botha. Dit is summier aanvaar dat dit haar opinie ook was, met ander woorde sy het ’n soort plagiaat gepleeg.

In die nuwe wetgewing oor kopiereg is een van die probleme die vryheid wat dit gee aan veral digitale media om werk te dupliseer en versprei onder die “fair play”-beginsel. Keyan Tomaselli van Wits het gewys hoe dit ’n “copy and paste”-kultuur sal aanmoedig, maw plagiaatpleging. Op sy beurt moet dit weer gesien word teen die agtergrond van “surveillance capitalism” soos oopgevlek deur Shoshana Zuboff. Die uiteindelike operasionele doel van hierdie soort kapitalisme is surplus-meta-inligting, waarmee hulle op allerlei maniere woeker. Sulke kapitaliste gee geen snars om vir die inhoud van die internet nie; hulle soek na die maksimum volume van ’n verskynsel sodat hulle meer doeltreffend sekerheid aan kliënte kan verskaf oor mense se gedrag. Wat presies geplagieer word, gaan hulle nie aan nie – hoe meer sitasies, hoe beter kan hulle voorspel, en uiteindelik beheer, wat mense dink.

Een aspek van die “copy and paste”-kultuur is dat die enorme hersirkulasie van tekste self ’n verskynsel word om te satiriseer of parodieer. Die oorlogmaker Donald Rumfeld is in een van die mees aangehaalde digters in Engels omskep bloot deur ’n berugte uitspraak oor Irak in versreëls op te breek. ’n Nederlandse digter het in Suid-Afrika opgetree deur die Nederlandse grondwet voor te dra. Die spesmaas dat hy geen digter was nie maar op hierdie manier ’n gesubsidieerde reis na Suid-Afrika kon kry, onderstreep net die kompleksiteit van die saak.

Ek moet op hierdie punt nog iets persoonliks erken: Ek het Blood Meridian nog nie gelees nie. Hoewel ek Cormac McCarthy baie geniet, is ek om verskeie redes nie ’n onvoorwaardelike aanhanger nie. Dit is wel op my lys van boeke om nog te lees, saam met Anna Karenina (ek het darem al Oorlog en vrede en vele ander Tolstois gelees), Finnegan’s wake en enigiets van Thomas Mann.

Maar ek het al genoeg gelees oor die status wat Blood Meridian in die Amerikaanse lettere beklee, en oor die intrige van die roman, gesetel in die wetteloosheid van die Amerikaanse “frontier” waar mensejagters geld kon verdien met die “scalps” van die sogenaamde Indiane. En natuurlik is daar Wikipedia, wie se inskrywing bevestig dat daar breë ooreenkomste is met Buys se verhaal, en die “alom-Buys” waarbinne Anker se verteller sy vertelling plaas, is duidelik ’n afskaduwing van die regter in Blood Meridian.

Anker word van veel meer beskuldig: dat hy passasies van McCarthy met geringe veranderinge oorgeskryf het. Die voorbeelde in die TLS-resensie is nogal oortuigende bewys hiervoor en dit sal nie verbasend wees as nog passasies gevind word nie.

Blood Meridian, sê Wikipedia se bronne, is self gebaseer op die geskrifte van Samuel Chamberlain, oor die berugte Glanton-bende in die 1850’s. McCarthy het geskryf dat sy navorsing in diep besonderhede ingegaan het. Waar sal die grense van plagiaat hier lê? Is die feit dat dit in sy kenmerkende tipografiese styl gedoen is, nie reeds genoeg om dit McCarthy se werk te maak nie? Indien hierdie hipotese aanvaarbaar is, en teen die agtergrond van die post-postmodernistiese hersirkulering hier bo geskets, plagieer Anker vir McCarthy, of vir Chamberlain? Kan McCarthy se verhouding teenoor Chamberlain vir ander skrywers ’n carte blanche gee om met McCarthy se woorde te maak wat hulle wil?

Afgesien hiervan is daar reeds ’n enorme hoeveelheid kuns en illustrasie, ook in grafiese-roman-vorm, en waarskynlik allerlei soorte tekstuele pastiche, op die internet wat op Blood Meridian gebaseer is. Soos ’n mens kan verwag, is baie hiervan kru en deurspek met stereotipes, en as ’n mens weer die TLS-passasies lees (ek het nie die Engelse vertaling Red Dog onder oë gehad nie), wil ’n mens amper sê, dank Vader, Anker het darem die poëtikaliteit so kenmerkend van McCarthy behou – ’n vars briesie oor die vullishoop van afgeleides.

War, ’n bekroonde roman van my vriend James Whyle, oor die Britse kampanjes teen die Xhosa, is ook geïnspireer deur Blood Meridian, en Whyle erken in die nawoord dat hy baie van die tonele en sinsnedes oorgeplaas het in ’n Oos-Kaapse konteks. (Ek het amper geskryf “ruiterlik erken”, maar toe besef dis ’n Blood Meridian-soort woord.) Maar hier is nou die verdere komplikasie: Whyle het  War geskryf vir sy MA in kreatiewe skryfkuns. Sy studieleier? Willem Anker as dosent by Maties.

Dit moes gebeur het terwyl Anker aan sy eie Buys gewerk of begin dink en werk het, en die volgende vraag is dus: Is dit moontlik dat Anker vir Whyle plagieer? Het hulle besprekings van Blood Meridian, wat daar sekerlik was, gelei tot ’n onbewustelike herhaling van passasies? Alleen Anker sal hierdie vrae kan beantwoord, want Whyle se erkenning van sy bron en die invloed daarvan is oortuigend genoeg, anders as Anker s’n, wat net na “wrakke van McCarthy” verwys. Anker s’n is wrakke waarin ’n mens kan inklim en ry.

My lesing van Buys sal altyd gekleur wees deur persoonlike insette. ’n Oom van my het as passer en draaier van Pretoria-Noord werk gedoen vir die mense van Buysdorp ’n ent van die destydse Pietersburg, vandag Polokwane. Sy anekdotes oor die mense wie se vanne almal Buys was, het ons kinders geboei en ons het probeer om saam te gaan. Maar hy wou nie, want hulle was kleurlinge, nie ons soort mense nie. Hy was ’n deeglike rassis.

Buysdorp (foto: wikipedia)

Onlangs het ek toe wel die kans gekry om Buysdorp te gaan besoek, op pad na ’n joernalistieke opdrag. En ja, die meeste grafstene in die goedversorgde kerkhof dra die naam Buys. Dit is miskien insiggewend dat die begraafplaas min of meer die middelpunt van die plek is, want ’n konvensionele dorp is dit nie. Benewens ’n skool en ’n poskantoor is daar nie eens enige winkels nie, net een naby die grootpad. Die dorp is eerder ’n vrugbare kom in die Blouberge waar die inwoners ’n hele rits plotte uitgelê het, feitlik almal met produktiewe boorde en landerye.

By die begraafplaas gesels ek op vlot, suiwer Afrikaans met Christiana Buys en haar swygende kleinkind Quinton. Sy vertel van gedwonge arbeid as kind op die landerye en hoe elkeen van die Buyse maar by hulleself hou, afgesien van byeenkomste by die kerk op Sondae. Nee, sy het nog nooit gehoor van ’n boek oor die voorvader nie, maar was skielik meer waaksaam na my vraag.

Later laai ek ’n ryloper op en hy vertel my hy is besig om Afrikaans te leer sodat hy beter met die Buyse kan kommunikeer – hy wys my ’n boekie met frases. Hy vertel die Buyse is goeie, hardwerkende mense. Maar so nou en dan hoor hulle van ’n groot bakleiery onder mekaar met gewere en dinge betrokke, en dan bly buitestanders maar weg. Hoeveel hiervan boslegende is, kon ek nie agterkom nie.

Maar my besoek het onderstreep dat Buys ’n werklike mens was met ’n ontsagwekkende storie wat tot nog toe gemarginaliseer is. Wat Willem Anker in Buys wys, is dat die voorvader van die Buyse wel een van ons soort mense was – ons almal as sogenaamde Afrikaners of Afrikaanses het dieselfde soort moorddadige voorvader gehad. Hierdie konteks alleen maak Buys uniek, en moeilik in sy konseptualisering om die boek te sien as bloot ’n duplisering van die Blood Meridian se élan en etos.

Blood Meridian se politieke impak is heeltemal anders; dit spreek die Amerikaners se stilswye oor en verromantisering van hul uitdelging van inboorlinge aan deur ’n staat wat sy burgers aangemoedig het om te help volksmoord pleeg. In Buys was daar nie so ’n staat nie; of as die Kaap as een beskryf kan word, is Coenraad Buys veel meer van ’n rebel as ’n instrument. Buys doen iets gans anders – dit is deel van die verdere oopskryf van Afrikaners se huigelary oor hul geskiedenis, en van die werklike verhouding tussen wit en swart.

Al word Buys se status in die panteon van Afrikaanse meesterstukke uiteindelik geraak deur die beskuldigings en, moet ’n mens sê, stewige stawing vir minstens iets soos “nodes van plagiaat”, sal dit altyd die produk van ’n unieke omgang met die Suid-Afrikaanse werklikheid wees. Daar is ’n oormaat van plaaslike verwysings en insette wat oortuigend genoeg soos Anker se eie belewenis van die Oos-Kaap lyk. 

Vir my maak besinning oor die kwessie ’n ander dimensie oop: Is die Anker/Whyle/McCarthy-projek nie ’n bevestiging van die transkontinentale aard van ’n deurslaggewende periode van gewelddadige kolonialisering van mense wat as wit mense se minderes beskou is nie? Die drie boeke speel in min of meer dieselfde tyd af. Al drie breek die mite van die kolonialiste as mense met die beste bedoelinge om die beskawing te versprei met sy Disney-waardes af tot dit wat die primêre bronne weergee; mense vir wie oorlogsug die moeder van alle dinge is.

En is die hersirkulering van passasies dan nie ’n onderstreping en herbevestiging van hierdie transkontinentale aspekte nie? Of is dit ’n perverse manier om ’n duidelike oortreding van die letterkundige reëls goed te praat?

Na alles voel ek een behoefte, en dis om Blood Meridian bo-aan my lys van boeke om nog te lees, te plaas. Nie omdat ek uitsluitsel wil kry oor die plagiaatkwessie nie, maar om meer insig te bekom oor daardie tydperk in die wêreldgeskiedenis. Sou ’n skrywer van Willem Anker se formaat dit nodig vind om diep te put uit Blood Meridian, moet dit een van die fondasietekste van ons gesamentlike toekoms as die mensdom wees.

Lees ook:

Willem Anker, Red Dog en Vrye Weekblad

Red Dog en die illusie van skande

  • 4

Kommentaar

  • Dankie Hans. Nugter, ingelig en netjiese aanvoering. Inderdaad, vir: "die transkontinentale aard van ’n deurslaggewende periode van gewelddadige kolonialisering van mense wat as wit mense se minderes beskou is".

  • Lees tog eers vir Buys, voordat jy hom sommer voorhou as die simbool vir alle nie-wittes se gruwels in Afrika en asof alle nie-wittes in Afrika net gruwels gepleeg het. Ek dink ook nie dat dit die roman se bedoeling is nie. Geen skrywer wat sy sout werd is, verf die hele samelewing van sy tyd met sy hoofkarakter se (bloederige) kwas nie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top