Afrikaanse skrywers kraai koning in Engelse niefiksie

  • 0

Septerswaaiers in die mark

In die boekebedryf sorg die niefiksiemark wêreldwyd vir die grootste boekverkope. In Suid-Afrika is dié verskynsel geen uitsondering nie. Dit is veral boeke wat politieke exposés bied wat bo-aan die topverkoperlyste boer. Jacques Pauw se The President’s Keepers is een van die toppresteerders in die niefiksiegenre, met verkope van meer as 200 000 eksemplare sedert publikasie in 2017.

Engels is natuurlik die medium waarin Suid-Afrikaanse niefiksieskrywers die wydste moontlike mark bereik. Dit bied toegang oor taal- en kultuurgrense heen, en wanneer ’n boek kwessies van nasionale belang aanraak en byvoorbeeld korrupte politici tot orde roep, is Engels die aangewese medium om maksimum impak te verseker.

Op plaaslike niefiksiefront staan Afrikaanssprekende skrywers nie ’n tree terug vir ander skrywers nie. Kort-kort tref hulle die mark met ’n opspraakwekkende boek wat internasionaal opslae maak. Pieter-Louis Myburgh se Gangster State, wat die vergrype van Ace Magashule aan die wêreld openbaar, is ongetwyfeld 2019 se niefiksie-boekgebeurtenis van die jaar. Pieter du Toit se The Stellenbosch Mafia boer steeds op topverkoperlyste, en bied ’n kykie agter die skerms van Afrikaner-geldmag. Blessed by BOSASA: Inside Gavin Watson’s State Capture Cult deur Adriaan Basson het eweneens uitstekend by die boeke-loket gevaar. Om nie te praat van James-Brent Styan se Steinhoff en die Stellenbosse boys wat ook in Engels as Steinhoff: Inside SA’s Biggest Corporate Crash die lig gesien het nie.

Anneliese Burgess se Heist! het in 2019 die kortlys van die Sunday Times Alan Paton-toekenning gehaal. (Foto's: verskaf)

Anneliese Burgess se Heist! South Africa’s Cash-in-Transit Epidemic Uncovered, wat in 2018 verskyn het, het verlede jaar ’n welverdiende plek op die Sunday Times Alan Paton-prys se kortlys behaal. Die boek werp lig op die binnewerking van die transitorooftog-epidemie wat Suid-Afrika deurentyd teister, en het topverkoperstatus bereik.

Afrikaanse skrywers wat op dié gebied in Engels presteer, is nie ’n nuutjie nie. Veterane soos Max du Preez publiseer reeds vir jare lank boeke in Engels, waarvan heelparty vertalings uit Afrikaans is. Vir Du Preez se uitgewer is ’n Engelse titel onder sy naam goud werd, want dit verkoop in die tienduisende.

Afrikaanse agtergrond

Bogenoemde skrywers kom almal uit ’n sterk Afrikaanse agtergrond, en was op een of ander stadium aan ’n dubbelmediumskool verbonde. Almal het aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer. Gewoonlik word die opspraakwekkendste niefiksieboeke deur ondersoekende joernaliste gelewer, omdat hulle toegang tot gespesialiseerde bronne het en in hul daaglikse sleur eksplosiewe onderwerpe hanteer. Twee van die skrywers, Adriaan Basson en Anneliese Burgess, het interessant genoeg geen formele joernalistieke opleiding ondergaan nie – albei het Sosiologie as hoofvak by Maties gehad.

Max du Preez se Engelse titels verkoop soos soetkoek. (Foto's: verskaf)

Max du Preez het, soos Antjie Krog en Mosiuoa Lekota, op Kroonstad grootgeword. Ná skool is hy Stellenbosch toe om regte en politieke wetenskap te studeer. Sy joernalistieke loopbaan het in 1974 in Kaapstad by Die Burger begin, en later was hy lid van Beeld se beginredaksie in Johannesburg.

Met die aankoms van die VN-vredesmag het hy vanuit die Namibiese kantoor in Windhoek gewerk. “Maar die koerante het nie van my politieke aanslag in my beriggewing gehou nie,” vertel hy. “En ek nie van hulle ondersteuning van die Nasionale Party en apartheid nie, toe bedank ek in 1983 en gaan werk eers by Financial Mail en toe by Sunday Times en Business Day, voor ek in 1988 terug is na die Afrikaanse joernalistiek toe ek Vrye Weekblad geloods het.”

Anneliese Burgess en James Brent-Styan het hul kinderjare in die Oos-Kaap deurgebring, en uit die staanspoor was hulle blootgestel aan ’n meertalige omgewing. Burgess vertel: “Ek het grootgeword in ’n huis waar ons Engels en Duits gepraat het, maar my ouma was Afrikaans. En in die Oos-Kaap praat baie mense in elk geval so ’n Afri-Engels as hulle Engels praat.” Ná skool is Brent-Styan Matieland toe, waar hy ’n honneurs in joernalistiek verwerf het.

Oor skryf in Engels

Max du Preez se Engelse boeke verkoop uitstekend, terwyl die Afrikaanse titels volgens hom minder goed vaar: “My pogings in Afrikaans, soos Oor Krygers, konkelaars en korrelkoppe en Dwars het nie baie goed in die mark gevaar nie, maar al my Engelse boeke het besonder goed verkoop.”

Hy skryf ewe maklik in Engels as in Afrikaans. “Ek is boonop nie veel van ’n professionele Afrikaner nie,” sê hy, “sommer net ’n gewone een.” Du Preez se visie as skrywer strek inderdaad wyer en verder. “Ek sien my primêre identiteit as dié van ’n Suid-Afrikaner, en die hele bevolking as my potensiële gehoor, eerder as net Afrikaanssprekendes. Mense wat in boeke soos my A Rumour of Spring belangstel, sal dit in Engels lees, al is hulle eerste taal Afrikaans of Sesotho.”

Adriaan Basson, skrywer van Blessed by Bosasa. (Foto's: verskaf)

In sy sestien jaar as joernalis het Adriaan Basson vir die eerste ses jaar in Afrikaans gewerk, en die dekade sedertdien in Engels. “Die meeste van my ondersoekende joernalistiek het ek in Engels ‘gepleeg’ by Mail & Guardian en City Press.” Vir Basson was dit net soveel makliker om in Engels oor die doen en late van maghebbers te skryf. Hy verduidelik: “Hofstukke is in Engels. Die bronne praat Engels. En natuurlik kan die meeste Suid-Afrikaners Engels verstaan.”

Dit was dus voor die hand liggend dat Engels die taal is waarin hy as ondersoekende joernalis die grootste impak kon hê. “Die feit dat ek in Engels geskryf het, het my gevestig as politieke kommentator op Engelse mediaplatforms en dit vir my moontlik gemaak om met die meerderheid Suid-Afrikaners in gesprek te tree,” verduidelik hy.

Maar toe hy die oorgang vanuit ’n Afrikaanse omgewing na Engels maak, was dit nie sonder senuwees wat knaag nie. Nadat Basson in 2007 die Taco Kuiper-toekenning vir ondersoekende joernalistiek gewen het toe hy by Beeld was, het Ferial Haffajee hom genader om by Mail & Guardian aan te sluit. “Ek het die naweek voor my eerste dag daar ’n Oxford-woordeboek gaan koop en my naels gekou. Na twee weke in die tuig het die Engels makliker gevloei.” Die subredakteurs by die koerant het hom later vertel dat die Afrikaanse joernaliste daar baie beter en verstaanbare Engels skryf as die Engelssprekende joernaliste.

Pieter-Louis Myburgh, wie se The Republic of Gupta en Gangster State Suid-Afrika soos ’n storm getref het. (Foto's: verskaf)

“Engels bly maar die mees effektiewe lingua franca in Suid-Afrika,” sê Pieter-Louis Myburgh. Hy is vas oortuig dat The Republic of Gupta en Gangster State nie naastenby dieselfde impak sou hê of soveel omstredenheid sou veroorsaak het indien dit slegs in Afrikaans uitgereik was nie.

Myburgh se Gangster State het wêreldwyd aandag getrek nadat die eerste boekbekendstelling deur Magashule-ondersteuners in Johannesburg ontwrig is. Oor die ontwrigtingsaksie en dreigemente wat hy sedert die boek se verskyning ontvang het, het hy gemengde gevoelens: “Op die aand van die ontwrigting was ek deeglik ontsteld. Ek het gevoel die gehoorlede wat opgedaag het om na ’n gesprek oor ’n nuwe boek te luister, is van daardie geleentheid ontneem deur ’n betreklik klein groep mense wat kennelik nie ’n duit omgee oor iets soos vryheid van spraak nie. Maar die ontwrigting het darem ook ’n positiewe gevolg gehad in die vorm van die bykomende publisiteit, wat gevolglik meer aandag gefokus het op die eintlike kwessies wat die boek uitlig.”

Ondersteuners van Ace Magashule het in 2019 die bekendstelling van Gangster State in Sandton ontwrig. (Foto: Penguin Random House)

Vir Max du Preez kan ’n mens niks vertel oor dreigemente en kritiek nie. Sedert sy Vrye Weekblad-dae moes hy verguising en ad hominem-aanvalle trotseer – die prys wat skrywers dikwels moet betaal. Maar juis omdat hy as skrywer in Engels gevestig geraak het, het die basis van daardie kritiese reaksie op sy werk uitgebrei. Dink hy dit sou anders gewees het as hy slegs in Afrikaans bly publiseer het? “Beslis. Ek was van 2000 af vir agtien jaar ’n politieke rubriekskrywer, eers vir die Independent-groep, toe vir City Press en toe News24. Dit gee ’n mens ’n nasionale profiel, ’n stem in alle gemeenskappe.”

Sedert April verlede jaar is Du Preez – saam met Anneliese Burgess – betrokke by vryeweekblad.com, ’n aanlyn-herlewing van die legendaries koerant wat sy deure moes sluit kort nadat demokrasie gevestig is. “Nou skryf ek weer net in Afrikaans,” sê hy. “Ek geniet dit erg, maar ek is deurentyd daarvan bewus dat ek net vir Afrikaanssprekendes skryf en niemand anders eens kennis neem nie.”

Stoei die tale in die skrywers se koppe?

Wat gebeur in hierdie skrywers se koppe wanneer hulle aan ’n boek werk? Dink hulle van meet af aan in Engels, of is daar ’n stoeigeveg tussen tale tydens die skryfproses?

Anneliese Burgess ervaar ’n wisselwerking van drie tale in haar kop: “Soms as ek in Engels skryf sal ’n Duitse of Afrikaanse woord vir iets opkom, en dan sal ek eers vinnig moet dink wat die regte woord in Engels is. Maar omdat ek so lank nou al hoofsaaklik in Engels werk, skryf ek vinnig en maklik.”

Noudat sy weer in Afrikaans vir Vrye Weekblad skryf, het ’n interessante proses plaasgevind. “Ek het aanvanklik gesukkel om my kop terug te kry in Afrikaans – tot so ’n mate dat ek die eerste paar stories vir Vrye Weekblad eers in Engels geskryf en toe vertaal het. Alhoewel ek elke dag Afrikaans gepraat het, en dit beslis my hartstaal is, het ek gesukkel om terug te skakel na geskrewe uitdrukkings in Afrikaans; ek moes elke tweede woord gaan opsoek.”

Vir Max du Preez manifesteer die mengelmoes tussen tale in sy kop op die sleutelbord. “Soms sien ek ek tik a as ek ’n bedoel, soms andersom. Soms kry ek net die regte woord in Engels en moet dan ’n Afrikaanse een daarvoor soek, soms andersom.” Maar Afrikaans vloei die sterkste in sy bloed: “My vrou hou vol my Afrikaans het meer ‘hart’ as my Engels, maar ek sê dan vir haar dit is omdat Afrikaans meer van ’n hartstaal is.”

Byvoordele in die Engelse mark

Anneliese Burgess brei uit oor haar ervaring in die Engelse mark: “Heist! was vir my ’n baie interessante ervaring. Dit was die regte boek op die regte tyd en die feit dat dit in Engels was, het dit uiteraard ’n baie wyer gehoor gegee as wat ’n boek oor dié onderwerp in Afrikaans sou.”

Sy wys daarop dat ’n boek in Engels potensieel groter blootstelling in die media het, juis omdat dit toeganklik is vir ’n breër basis joernaliste. “As dit in Afrikaans was, sou ons gelukkig gewees het met ’n bietjie aandag in die Afrikaanse media. Die filmregte vir Heist! is ook onlangs verkoop, en ek twyfel sterk of dit sou gebeur het met ’n Afrikaanse boek wat oor transitorooftogte handel. Die boek sou waarskynlik nie op die radar van die filmmakers gekom het nie.”

Pieter-Louis Myburgh deel dié sentiment. ’n Kaapse produksiemaatskappy het onlangs die filmregte vir sy eerste boek, The Republic of Gupta, gekoop. “Daar moet nog baie water in die see loop, maar die kans bestaan nou minstens dat die boek in ’n rolprent of ’n reeks omskep kan word. Ek glo nie dit sou gebeur het indien die boek slegs in Afrikaans beskikbaar was nie.” Ook ander deure het vir Myburgh oopgegaan. “Geleenthede het oor my pad gekom, waaronder om as gasspreker by korporatiewe geleenthede op te tree, wat waarskynlik nie sou realiseer indien ek slegs in Afrikaans gewerk het nie.”

James Brent-Styan, wie se Steinhoff-boeke in Afrikaans en Engels verskyn het. (Foto's: verskaf)

Die filmregte van James Brent-Styan se boek oor die hartchirurg Chris Barnard, in Engels en Afrikaans onderskeidelik as Heartbreaker en Hartebreker gepubliseer, is deur Anant Singh van Videovision Entertainment opgeraap. Ook Steinhoff se filmregte is van die hand gesit, maar hieroor wil Brent-Styan nie veel sê nie.

Wanneer ’n boek in Engels én Afrikaans verskyn

Met die verskyning van Steinhoff en die Stellenbosse boys in Afrikaans en Engels, is meer eksemplare in Engels verkoop. Volgens Marida Fitzpatrick, Brent-Styan se uitgewer by LAPA, het verkope in Engels ongeveer 55% van die totale verkope uitgemaak.

Pieter du Toit se The Stellenbosch Mafia fokus spesifiek op die Afrikaanse sakewêreld en sakemense in Stellenbosch, en dit het in Engels by Jonathan Ball verskyn. Uiteraard wonder ’n mens hoe die boek sou vaar as dit in Afrikaans ook uitgegee is.

Jeremy Boraine, niefiksie-uitgewer by Jonathan Ball, verduidelik waarom die uitgewery in hierdie geval nie ’n Afrikaanse vertaling oorweeg het nie: “’n Kombinasie van faktore speel ’n rol wanneer ons besluit of ons ’n boek in Engels en/of Afrikaans gaan uitgee – koste, kwaliteit, tydsberekening, omstandighede en instink. Wanneer ’n boek in twee tale verskyn, is dit belangrik dat dit gelyktydig moet gebeur. Ons het dus genoeg tyd nodig om te vertaal, wat beteken dat die oorspronklike werk teruggehou moet word. Vertaling kan ook nie afgejaag word nie, anders ly die kwaliteit daaronder. As ons dus ’n boek vinnig in die mark moet kry, maak dit meer sin om dit slegs in een taal te publiseer.

Pieter du Toit, skrywer van The Stellenbosch Mafia. (Foto's: verskaf)

The Stellenbosch Mafia was ’n wegholtreffer in Engels, juis omdat Afrikaanse lesers ’n Engelse weergawe sal lees as die boek nie in Afrikaans beskikbaar is nie,” sê Boraine, “en in hierdie geval wou ons die boek so vinnig moontlik op die rakke kry; die mark kon nie langer daarvoor wag nie.”

Wat volgende?

Het die sukses in die Engelse mark hierdie skrywers laat afsien daarvan om ooit in Afrikaans te skryf? En waarna kan lesers volgende uitsien?

James Brent-Styan werk aan twee boekprojekte. Die eerste handel oor “die grootste krisis” in demokratiese Suid-Afrika. En dan is daar verder in die toekoms nog ’n opspraakwekkende biografie in die pyplyn; iets soos “Chris Barnard op steroids”, sê hy.

Adriaan Basson en Pieter-Louis Myburgh is lugtig om hieroor kommentaar te lewer. Maar Anneliese Burgess ondersoek die vloei van mense – immigrasie en emigrasie en interne migrasie in Suid-Afrika. “En hoe meer ek uitvind,” sê sy, “hoe meer fassinerend, en kommerwekkend en skrikwekkend, raak dit. Ek dink dit is my volgende boek, maar die onderwerp maak my nog bietjie bang.”

Max du Preez het ’n klinkklare visie van sy volgende publikasie, in Afrikaans en in Engels: “Ek werk aan ’n boek oor die patrone van grondeienaarskap in Suid-Afrika oor die laaste vier eeue, wat in Afrikaans onder die titel Geboortegrond en in Engels as This Land is My Land uitgegee gaan word.”

Al die skrywers verslind Afrikaanse boeke en hoop die geleentheid doen hom voor om self weer in Afrikaans te skryf. Vir Pieter-Louis Myburgh sal dit ’n doelbewuste besluit wees – “gebaseer op die vermoede dat ek sekere gewaarwordinge, gedagtes en ervaringe dalk meer doeltreffend kan neerpen in die taal waarmee ek my eerste woorde gesê het”.

Vir taalbulle wat glo dat ’n Afrikaanse skrywer eksklusief in die taal móét skryf, is daar nie geduld onder hierdie skrywers nie. Burgess sê: “Ek is nie Afrikaans of Engels nie. Ek is ’n tweetalige Suid-Afrikaner. En ons almal is dit – of behoort dit te wees. As jy jouself as uitsluitlik Afrikaans sien, kry ek jou maar jammer, want dan is jou wêreldjie maar baie eng.”

So ’n bietjie “Boere-sentiment”?

Du Preez het verskeie gesogte toekennings en eerbewyse vir joernalistiek en skryfwerk ontvang. Koester hy, as “Afrikanerseun” wie se ouma as kind ’n konsentrasiekamp oorleef het, miskien ’n spesiale soort sentiment wanneer ’n eerbetoon vanuit Engelse oord hom te beurt val?

Max du Preez nadat die Universiteit van Kaapstad ’n eregraad aan hom toegeken het. (Foto deur die skrywer verskaf)

Eers antwoord hy met ’n flinke “Nee”, maar dan gee hy tog toe: “Wel, miskien ’n klein bietjie, veral met buitelandse toekennings soos van Harvard en Yale, en iets soos die Nat Nakasa-toekenning en die Ahmed Kathrada-toekenning vir leierskap – of verwar ek dit met die feit dat ek ’n wit Suid-Afrikaner is?”

Hy vertel van die keer toe die Universiteit van Kaapstad in 1990 ’n eregraad aan hom toegeken het. By dié geleentheid het Du Preez ’n stormagtige toespraak oor apartheid en wit kapitalisme gelewer. “Ek onthou wel dat dit vir my lekker was omdat die destydse kanselier wat die graad oorhandig het, Harry Oppenheimer was. Ek het stilletjies gewonder of dit my Boerevoorsate se wraak op die Randlords was.”

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top